Een van Franschhoek se oudste inwoners, Johanna Cain, het haar 100 ste verjaardag op 7 Maart op Boschendal-plaas gevier, waar sy deur Stellenbosch se burgemeester, Gesie van Deventer, verras is.
“Dit was vir my ’n ongelooflike ervaring en voorreg om vir Tannie Johanna geluk te kon wens met haar 100ste verjaardag en haar lewensvreugde te kon ervaar,” het Van Deventer gesê.
Cain het op Boschendal-plaas gewerk tot sy 70 jaar oud was, en alles gedoen van werk in die restaurant, blomme doen tot onthale beman totdat hulle haar later tot toesighouer van die Manor House bevorder het.
“My ouers het ook daar gewerk. So toe hulle afgetree het, het ek oorgeneem. Dit was vir my ’n voorreg om daar te werk. Baie ministers het die Manor House besoek waar ek vir hulle tee gemaak het en dit saam met hulle gedrink het. Meneer Harry Oppenheimer was my baas in daardie stadium,” het Cain gesê.
Cain sê sy kan aan niks spesiaals dink wat sy gedoen het om ’n 100 te haal nie.
“Ek het normaal geëet. Ek het my lewe lank hard gewerk. Ek het nooit gerook of wyn gedrink nie. Ek het ’n Godvresende lewe gelei,” het sy gesê.
Haar gesin voel baie oorweldig en trots om ’n ma, ouma, oumagrootjie en grootouma te hê wat hulle elkeen nog onthou.
“Ongelukkig weet ek nie presies hoeveel kleinkinders, agterkleinkinders en agter-agterkleinkinders sy het nie. Al wat ek weet, is dat sy agt kinders gehad het, waarvan net twee nog leef,” het haar dogter, Petronella Baartman, gesê.
Cain se kleindogter, Chanelle Steneberg, het al die pad van Engeland gekom om deel van die vieringe te wees.
“Tannie Johanna is ’n pragtige vrou en groot inspirasie vir my en as burgemeester om weer die mooi in die lewe en in ons munisipaliteit te kan waardeer,” het Van Deventer gesê.
Sy het bygevoeg dat sy vir Cain goeie gesondheid en nog baie jare toewens.