12-jarige van Stellenbosch haak geelvintuna

’n Jong diepseehengelaar en lid van die Gordonsbaai-hengelklub spog met sy grootste vangs nog – ’n gewigtige geelvintuna wat hy met ’n ligte lyn ingekatrol het!.


’n Jong diepseehengelaar en lid van die Gordonsbaai-hengelklub spog met sy grootste vangs nog – ’n gewigtige geelvintuna wat hy met ’n ligte lyn ingekatrol het!

Die 12-jarige Mickyle Vermaak van De Wijnlanden in Stellenbosch is in ’n sewende hemel nadat hy dié bielie van ’n vis in Saterdag 11 November se interprovinsiale tuna-kompetisie, wat deur die Westelike Provinsie-liga aangebied is, gevang het.

“Ek was in ekstase en uiters ingenome toe ek die geelvintuna, wat ’n yslike 75,1 kg weeg, op my 15 kg-lyn gevang het. Dis my grootste tuna nog,” het die gr. 6-leerder van die Laerskool Eikestad opgewonde vertel.

Die jongeling deel ’n passie vir hengel met sy pa, Robin, wat voorheen die land op twee afsonderlike geleenthede as Protea-hengelaar in vreemde waters verteenwoordig het. Mickyle het van kindsbeen af ’n passie vir visvang en sy pa het hierdie liefde met verskeie visvanguitstappies gekoester. As ywerige en ervare diepseehengelaar het Robin sy seun sedert die teer ouderdom van drie jaar aan die hand gevat, oor die jare heen saam op menige hengel-avonture geneem en sy vaardighede en kennis met hom gedeel.

Mickyle onthou dat sy geliefde pa hom met baie geduld gehelp het om sy visvang-vaardighede te slyp en die fyner kunsies van diepseehengel baas te raak. Dis is danksy Robin asook ervare hengelaars en mentors, onder wie Ian Viljoen en Steve Ewells, dat die jong diepseehengelaar vanjaar sy volle WP-kleure in die sport verwerf het. Mickyle hengel ook as lid van die WP-liga en blink uit in buitelandse tuna-hengel.

Die jongeling is onlangs gekies om sy klub in Saterdag se kompetisie te verteenwoordig en het die uitdaging saam met twee spanmaats, Christiaan Viljoen (wat ook die skipper van hul boot, Piromero, was) en Steve Ewells (wat aan die stuur was) aangepak.

Mickyle vertel sy pa kon homself nie vir die kompetisie beskikbaar stel nie, aangesien hy op dié dag landuit was.

“My ma, Melinda, het my baie vroeg by die plaaslike hengelklub afgelaai, waarna ons die diepsee op die Piromero ingevaar het. Ons het ongeveer 25 seemyle wes van Kaappunt begin trol. Ek het my betroubare en gelukkige bruin en goue lok-gewigte gebruik. Ná ongeveer twee uur van trol het ’n geelvintuna gebyt. Ná ’n baie harde geveg van sowat ’n uur en ’n half het ek die mooi geelvintuna van byna 40 kg suksesvol ingekatrol,” het Mickyle vertel.

Dié kranige hengelaar vertel voorts hy was tevrede met dié vangs wat reeds sy dag gemaak het, maar hy was salig onbewus dat sy geluk nog nie uitgeloop het nie. “Min het ek geweet wat op my wag en dat hierdie vis ’n blote voorspel was tot wat sou kom,” het hy gesê.

“Nadat ek my tuna aan boord gekry het, het ons opgehou trol en begin om na nog tuna te soek. Met die lok-aas reeds in die water, het ek aas op die enkelhoek van my Tiagra-visstok, wat met ’n 30-pond-Tiagra-katrol toegerus is, gesit. Die vislyn op die Tiagra-katrol word afgerol, wat dan die aas-stukkie toelaat om stadig in die koel water van die Atlantiese oseaan te daal. Die rem op die katrol word losgelaat met slegs die ratel van die katrol wat geset is.

“Vyftien minute nadat die span weer lok-aas in die water gegooi het, het die slaglyn van my visstok, wat op die oppervlak van die see gelê het, teen ’n skrikwekkende spoed verdwyn. Ek het net genoeg tyd gehad om die rem op my katrol voluit te stel, waarna die katrol sy bekende geluid begin skree het, wat aandui dat jy pas ’n monster van ’n vis gehaak het. Die eerste lopie met die vis was uiters kragtig, en dit het amper die volle 600 m-lyn wat ek op my katrol gehad het, opgeneem.

“Toe die vis ’n bietjie bedaar het, het die meer ernstige en moeilike taak om die vis uit die diepte te lig, begin. Aangesien die vis ook van die boot af weggeswem het, het die skipper besluit om ons aaslyn in die water te los en die vis te volg. Ons het almal besef dit is ’n baie groot vis. Ons het ’n paar benoude oomblikke gehad toe die slaglyn slap geword het en die gevreesde gevoel oor my gekom het dat ons dalk die vis verloor het, net om te besef dat die vis van rigting verander het en steeds baie stewig vas was. Die vis het weer ’n baie sterk lopie gemaak en al die vorige lyn wat ek met moeite opgekatrol het, afgerol.

“Ná ’n verdere 30 minute in die geveg was die vis ’n dooie gewig en hy het nie sy al te bekende lopies gemaak nie. Ek kon nie die stert van die vis op die lyn voel klop nie. Dit beteken net een ding – dat die vis daarin geslaag het om homself stertkant eerste toe te wikkel en dat ek al my krag moes gebruik om die vis uit die diepte op te lig sonder om die lyn te breek. Ek het my pa se raad onthou – as hy ’n stert wikkelende vis lig, gebruik hy die deinings op die see. Ek het sy raad gevolg en die groot geelvintuna ná nog 45 minute ingekatrol en uit die water gelig. Die vis is kundig deur my mede-spanmaats gegaffel en ná ’n gestoei wat drie ure en 25 minute geduur het, het my vangs van ’n leeftyd langs my op die boot gelê.”

Volgens Mickyle was hy aanvanklik eers te uitgeput om die vangs te vier, want hy moes eers agteroor gaan sit om asem te skep. “Toe my aanvanklike moegheid begin afneem en ek die lengte en omtrek van die vis gesien het, was ek oorweldig met vreugde en dank. Ek het my pa op daardie oomblik baie gemis, want ek wou regtig hierdie prestasie met hom deel,” het hy vertel.

“Ons is kort nadat ons die vis in die boot gehad het, terug na Harbour Island. Die twee uur lange terugkeer het in ’n oogwink verbygegaan en almal op die boot was oorgelukkig met ons vangs.”

Mickyle het sy dankbaarheid uitgespreek vir sy ouers en mentors se onwrikbare ondersteuning asook die borgskap van Airmar en die geleenthede wat moontlik gemaak is deur die WP – veral vir sy puik junior ontwikkelingsprogram.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.