14de Paul Roos-leerder ontvang die US-kanseliersmedalje

’n Oud-student van Paul Roos Gimnasium (PRG), Jean Durand, is vanjaar as die ontvanger van die kanseliersmedalje van die Universiteit Stellenbosch (US) aangewys.


’n Oud-student van Paul Roos Gimnasium (PRG), Jean Durand, is vanjaar as die ontvanger van die kanseliersmedalje van die Universiteit Stellenbosch (US) aangewys.

Die kanseliersmedalje word jaarliks toegeken aan die mees verdienstelike student wat in daardie jaar ’n graad of nagraadse diploma aan die US behaal het. Dié medalje is al 61 keer sedert 1961 toegeken en Donderdag (8 Desember) is die 14de Paul Rooser as die trotse ontvanger van die US-kanseliersmedalje aangewys.

Durand het in 2018 as dux-leerder aan PRG gematrikuleer en sy Baccalaureusgraad (BSc) in Wetenskappe (wiskundige wetenskap) in 2021 cum laude verwerf. Vanjaar het hy sy BComm-honneursgraad in wiskundige statistiek met onderskeiding voltooi.

Die ontvangs van dié medalje is ekstra spesiaal gemaak deur die oorhandiging daarvan deur prof. Wim de Villiers self, wat die sewende oud-leerder van Paul Roos Gimnasium was wat dié medalje in 1983 ontvang het.

Volgens Durand was hy aangenaam verras. “Ek het nou al baie jare aan die US deurgebring en dit is ’n fantastiese manier om my tyd hier af te sluit. Dit was jare se harde werk, wat nou tot ’n wonderlike einde gekom het. Dit is regtig die grootste eer en ek is so dankbaar vir al die mense wat dit moontlik gemaak het.”

Dié trotse ontvanger van die kanseliersmedalje gee ook erkenning aan die personeel van PRG, waar hy toegelaat is om sy eie pad te volg. Hy is van plan om sy meestersgraad in datawetenskap aan die Imperial College in Londen of by Cambridge te voltooi.

Sy naam sal op die erebord in die voorportaal van PRG by die vorige ontvangers gevoeg word.

Vorige Paul Roos-kanseliersmedaljehouers:

1968 – Reenen J van Reenen (MSc-graad)

1971 – JM Kirsten (MA-graad)

1972 – JJ Conradie (MSc-graad)

1973 – ML Marais (BSc-graad)

1979 – Sarel J Steel (MSc-graad)

1980 – Anton A van Niekerk (MA-graad)

1983 – Wim JS de Villiers (MB ChB-graad)

1987 – Wolfgang D Rencken (BIng-graad)

1989 – Wilhelm F Verwoerd (MA-graad)

1990 – SF du Toit (BTh-graad)

1991 – Dalton Odendaal (LLB-graad)

2007 – Dirk IL de Villiers (PhD Ing-graad)

2013 – Jonas Bovijn (MB ChB-graad)

2022 – Jean Durand (BComm Hons-graad)

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.