“Ons mag nie vir ’n minuut stilbly oor geweld nie. Kom ons neem hande, staan saam en meld alle gevalle van geweld aan om ons gemeenskappe weer heel te maak.”
Dit was die oorheersende boodskap wat Bettie Nieuwoudt, direkteur van StellSorg, by die bekendstelling van dié organisasie se 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog.
Die geleentheid is verlede Donderdag (2 November) deur gemeenskapsleiers, maatskaplike werkers en polisielede by die StellSorg-kantoor in Stellenbosch gehou. Onder die leiers wat die geleentheid bygewoon het, was lede van StellSorg se Oog op die gemeenskap-program.
StellSorg neem vanjaar met verskeie plaaslike en provinsiale departemente, die polisie en ander organisasies hande om Saterdag 25 November van 08:00 tot 13:00 ’n gesamentlike program by die Van der Stel-sportterrein van stapel te stuur.
Nieuwoudt het almal teenwoordig in haar toespraak aangemoedig om werklike aktiviste teen geweld – veral teen die mees kwesbare in die gemeenskap – te wees.
“Aktiviste praat nie net oor dit wat kwel nie, maar neem aksie en praat uit oor dit wat die gemeenskap kniehalter,” sê sy.
“Ons leef in ’n samelewing waar geweld oorheersend is. Net ek en jy kan die situasie omswaai. Kom ons praat uit wanneer ons geweld in ons gemeenskappe teëkom. Kom ons bring respek terug en begin die herstelproses van ons gemeenskappe.”
Nieuwoudt het verder uitgebrei oor die nasionale strategiese plan vir geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord se sewe pilare: verantwoordbaarheid en leierskap; voorkoming en bou van samehorigheid; beskerming, veiligheid en geregtigheid; reaksie, ondersteuning en genesing; ekonomiese bemagtiging; inligting en bewusmaking; en die beskerming van kinders en veiligheid.
“Ons kan nie meer armoede blameer nie. Ons gemeenskappe het seergekry en ons moet die herstelproses begin. Kom ons verander die 16-dae-veldtog na ’n veldtog wat 365 dae van die jaar uitgeoefen word,” sê sy.
Die gemeenskappe in die Cloetesville-polisiëringsgebied is slaggereed om hul stemme in die veldtog teen alle vorms van geweld by te voeg.Stephanie Henecke van die Cloetesville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê programme soos die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders-veldtog is vir die plaaslike gemeenskap belangrik, want dit bied hulle waardevolle inligting.
“Inwoners moet oor geslagsgebaseerde geweld ingelig word, en weet wat om te doen as hulle, ’n familielid of vriend in so ’n situasie beland,” sê sy. “Ons hoop dat die veldtog baie inwoners se aandag sal trek en dit tot meer samewerking met die polisie sal lei. Ons moet teen alle geweld in ons gemeenskappe saamstaan.”
Sers. Christopher van der Merwe, geslagsgebaseerde-geweld-amptenaar by die Cloetesville-polisie, het die vennootskap met die gemeenskap verwelkom en inwoners aangemoedig om met die polisie hande te vat.
“Dit is tyd dat ons die slagoffers in ons gemeenskappe en hul regte respekteer. Ons moet ’n diens aan hulle lewer en hulle beskerm sodat hulle weet dat ons hulle ondersteun,” het Van der Merwe gesê.
“Ek wil graag mense aanmoedig om alle vorms van geweld – veral teen vroue, kinders en bejaardes – by die plaaslike polisiekantoor aan te meld. Ons sal danksy die samewerking van inwoners en vennootskappe soos hierdie die sinnelose geweld in ons gemeenskappe hokslaan.”
- Kontak LeAnne Kumalo by 021 887 2816 vir inligting of om by StellSorg se veldtog betrokke te raak.