Nie eens die nat en koue weer kon verlede Vrydag (29 Julie) die begunstigdes van die Longlands/Vlottenburg-behuisingsprojek se blydskap demp nie toe 19 mense ná bykans drie dekades uiteindelik in hul eie huis kon trek.
“Ons is baie opgewonde. Ons het baie lank gewag. Dit was ’n lang, hartseer en moeilike pad tot vandag, maar hier is ons uiteindelik en ons is dankbaar,” het Pieter Taaibosch, voorsitter van die begunstigdeskomitee van die projek, gesê. “Baie van die oorspronklike begunstigdes is reeds dood, maar ten minste kan hul kinders nou die huise kry.”
Nellie Davids (48), wie se ma van die oorspronklike begunstigdes was, is bly sy kon haar ma se huis kry. “Ek is bly dat hierdie voorreg my nie ontneem is nie. My ma het tot haar dood vir ’n huis gewag. Ek wag al langer as 40 jaar vir hierdie dag. Dit is ’n groot mylpaal vir ons gemeenskap,” het Davids gesê.
Christopher (43) en Grentchen Taaibosch (42) sê hulle wag al bykans 25 jaar vir ’n eie huis. “Ons is dankbaar dat ons ook nou ’n huis van ons eie kan hê. Ons het as kinders hier grootgeword met buitetoilette en sonder elektrisiteit. Vandag het ons ons eie krag en water. Ons is ook bly dat almal wat saam met ons gewag het, insluitend die kinders van begunstigdes wat al oorlede is, nou hierdie voorreg kan ervaar.”
Die burgemeester van Stellenbosch, adv. Gesie van Deventer, het gesê sy is bly die munisipaliteit kon uiteindelik vir die mense van Longlands en Vlottenburg huise gee. “Drie kontrakteurs later en ons het dit gedoen. Dit was ’n moeilike en uitdagende pad, maar ons is bly ons kon dit laat werk. Toe ek destyds in 2016 as burgemeester ingekom het, het die gemeenskap my genader om hulp met die behuisingskwessie, en ek het hulle belowe ons gaan dit laat werk,” het sy by die oorhandiging gesê.
“Die behuisingsprojek is die eerste keer in 2003 deur die ANC van stapel gestuur, maar is nie voltooi nie. Daar was baie probleme. Ons het toe oorgeneem, en vandag is ons hier,” het sy bygevoeg.
Van Deventer sê die amptelike oorhandiging sal later vanjaar plaasvind, maar hulle laat toe dat mense intrek sodra die huise voltooi is ten einde vandalisme te voorkom.