Die Stellenbosch-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen ná die vlammedood van twee mense in die informele nedersetting in Mountainview, Jamestown, Dinsdag in die vroeë oggendure.
Mario Skippers (40) en Palesa Kali (31) het omgekom toe die wendyhuis waarin hulle was, in vlamme uitgebars het. Monaheng Kali, Palesa se broer en Skippers se vriend, het met die hulp van omstanders uit die vlammehel ontsnap.
Skippers het glo by die Kali-sibbe, wat in die struktuur gewoon het, gekuier toe die brand uitbreek. Eikestadnuus het na Monaheng uitgereik, maar hy was gisteroggend (Woensdag) nie in staat om oor die “traumatiese voorval” te praat nie.
Volgens ’n ooggetuie, wat ’n paar wonings van die toneel af woon, is sy deur iemand se noodkrete van “brand” wakker geskreeu. “Mense het hulle na die toneel gehaas, waar ons gesien het hoe die vlamme die struktuur verswelg. Omstanders het gesê hulle vermoed daar is mense in die huis en van die jong mans het probeer om die sinkplate af te breek, maar dit was te warm. Hulle het toe ’n klein venster gebreek en die een man is daardeur gered. Hulle kon die ander twee nie help nie. Die struktuur het tot op die grond afgebrand en ons moes hulpeloos toekyk.”
Sy sê omstanders het met emmers water probeer keer dat die brand na ander strukture versprei. “Hoewel ons hierin geslaag het, was dit maar moeilik omdat net een gemeenskaplike kraan in hierdie straat beskikbaar is.”
Die ooggetuie beskryf die voorval as ’n “traumatiese en hartseer ervaring”, veral om die verkoolde lyke van twee bekendes te sien. “Dis veral hartseer om te dink mense het een oomblik nog met die oorledenes gepraat, en die volgende oomblik is hulle net weg.”
Die Stellenbosch-brandweer is omstreeks 00:56 deur ’n inwoner van die brand in kennis gestel, sê die munisipale woordvoerder Stuart Grobbelaar. “Agt brandbestryders en vyf brandweervoertuie is dadelik na die toneel ontbied. Die eerste span het binne 10 minute op die toneel aangekom,” sê hy.
“Twee mense is op die toneel dood verklaar. Skade aan omringende strukture en wonings is gelukkig gekeer. ’n Ondersoek na die oorsaak van die brand is aan die gang.”
Kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, bevestig polisiebeamptes het hulle na die toneel in Skoolstraat gehaas toe hulle om 01:35 van die brand in kennis gestel is. “Toe polisiebeamptes op die toneel aankom, was die brand-en-reddingspersoneel reeds daar,” sê sy.
“Die lyke van ’n 40-jarige man en ’n 31-jarige vrou is in die oorblyfsels gevind. ’n Derde mens is ook in die brand beseer en is na die Stellenbosch-hospitaal geneem.”
Martin voeg by dat die oorsaak van die brand nie bekend is nie en dit word ondersoek.
Volgens die gemeenskapsleier Wilma Adams is dit die vyfde brand wat vanjaar in die Mountainview-woonbuurt uitbreek, maar die eerste wat lewens geëis het. “Voor dié noodlottige brand het ons met munisipale beamptes vergader en hulle gewaarsku dat die wendyhuise ’n brandgevaar inhou, veral wanneer die mense sonder krag sit en kerse moet gebruik,” sê Adams.
“Ons wou keer dat ’n brand tot die verlies van lewe lei, en hier gebeur hierdie tragiese voorval. Dit is vir ons belangrik dat die munisipaliteit aandui wanneer die tweede fase van die behuisingsontwikkeling gaan begin, want ons mense moet uit hierdie onveilige strukture kom.”