26 stempels en ’n Afrika-avontuur

Meer as 30 leerders van Hoërskool Stellenbosch, tussen die ouderdom van 14 en 18, die skoolhoof en nog ’n handjie vol volwassenes het gedurende die Julievakansie ’n toer deur Afrika aangepak.


Meer as 30 leerders van Hoërskool Stellenbosch, tussen die ouderdom van 14 en 18, die skoolhoof en nog ’n handjie vol volwassenes het gedurende die Julievakansie ’n toer deur Afrika aangepak.

In drie overland-voertuie het hulle uitgesoekte bestemmings in Botswana, Zambië, Zimbabwe en Namibië besoek.

Francois Malherbe van Unravelling Exploration, ’n organisasie wat self- en loopbaanverkenning fasiliteer deur middel van avontuur, het as toerleier opgetree.

“Ek wou seker maak hulle word blootgestel aan ’n verskeidenheid natuurtonele en buitelugavonture wat hulle opnuut bewus maak van hulle eie avontuurlus en hulle verantwoordelikheid teenoor die natuur,” vertel hy.

Die toer het afgeskop met ’n vlug na Livingstone, Zambië. Dáár het die jong avonturiers die geleentheid gehad om die bekende Victoriavalle vanaf Zimbabwe se kant te gaan besoek.

Die volgende bestemming was die Senyati-safarikamp in Botswana.

Wat dié kamp uniek maak, is ’n watergat wat tot 100 olifante die aande lok.

Daar is ook ’n ondergrondse skuiling, ’n paar meter van die watergat, waar die leerders kon gaan sit en kyk.

In Botswana het die leerders ook ’n kans gehad om die ongerepte Chobe Nasionale Park te gaan verken.

Hier was die dierelewe volop en vir baie leerders was dit ’n eerste geleentheid om so die natuur te verken.

Vanaf Botswana het die groep verder wes getoer na die Caprivi in Namibië. Hier het hulle die Nkasa Rupara-park gaan verken en in die voetspore van die bekende ontdekkingsreisiger, David Livingstone gestap.

Hulle het by Livingstones-kamp gebly in die hartjie van die Bosveld.

Die Okavangodelta was volgende op hulle bestemmingslys.

Hier het hulle by die bekende Ngepi-kamp gebly wat teen die Okavangorivier is. Nog ’n hoogtepunt was die wildrit na die Mahango-reservaat, op die grens van Namibië en Botswana.

Hulle het ook ’n kans gehad om Tsodilo Hills te gaan verken, wat die hoogstepunt van Botswana is. Tsodilo Hills is ook baie bekend vir sy San-rotstekeninge en daar word beraam dat daar tot 4 500 tekeninge tussen hierdie bergreeks is.

Na ’n dag op die langpad het die leerders weer vanaf Livingstone na die Kaap gevlieg, vol stories van waagmoed en nuwe ontdekkings.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.