Hoërskool Cloetesville het Saterdag 21 Oktober die Mr Price-sokkerliga vir hoërskole die vierde keer gewen.
Dié span het sy laaste wedstryd teen Oval North met 2-0 gewen en het so met ’n punt voor die verdedigende kampioen, Hoërskool Beacon Hill, geëindig.
Cloetesville het ook ander toppryse ingeryg. Gary Jacobs is aangewys as die afrigter van die jaar, Curtwin Koop is aangewys as doelwagter van die jaar en Cloetesville is ook gekroon as die span van die jaar vir sy dissipline, spangees en wedersydse respek vir sy spanmaats, teenstanders en die skeidsregters.
Die span het die trofee opgedra aan die voormalige skoolhoof, wyle Gavin Manuel, wat ’n belangrike rol in die skool se deelname aan dié kompetisie gespeel het asook aan die span se eerste sokkertoer na Duitsland in 2006. Hulle het hulde gebring aan oudleerders soos wyle Johan Lekeur en Marquard Adams vir hul bydrae tot die skool se sokkerkultuur.
Dorian Meyer, skoolhoof, het die spelers geprys vir hul toewyding en dissipline.
“Ek daag nou elke speler uit om ook rolmodelle in die gemeenskap te wees.”
Die bestuurspan bestaan uit Lionel Barends, Chris Joubert, Gary Jacobs en Dorian Meyer.