Jeuguitreik speel sedert 1997 ’n aktiewe rol in die diensverskaffing en bystand aan Stellenbosch se kwesbare jeug. Wat begin het as dienste aan straatkinders, het ontwikkel in twee kinderhuise en twee drop-in-sentrums.


Die Stellenbosse kinderhuis, Jeuguitreik, by die Du Toitstasie, het die omgeeharte van Stellenbossers nou meer as ooit nodig.

Jeuguitreik speel sedert 1997 ’n aktiewe rol in die diensverskaffing en bystand aan Stellenbosch se kwesbare jeug. Wat begin het as dienste aan straatkinders, het ontwikkel in twee kinderhuise en twee drop-in-sentrums waar voeding, skoolondersteuning, kleding, gesinshereniging en terapeu­tiese dienste met liefde aangebied word.

Met die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar is Jeuguitreik egter hard getref deur meer uitgawes, hoër kostes en minder skenkings. Jeuguitreik ontvang sowat 60% van sy inkomste van die staat, wat in die nuwe boekjaar as gevolg van leër staatskoffers verminder is.

Groter getalle kinders kom klop egter maandeliks aan vir hulp en ’n verskeidenheid dienste, daarom benodig Jeuguitreik 50 Stellenbossers met ruim harte wat bereid is om die hand diep in die sakke te steek en elk R1 000 per maand te skenk, of ’n jaarlikse, eenmalige skenking van R12 000 te doen, vandaar Projek 50/1000.

“Jeuguitreik kan en mag nie ’n honger kind wegwys nie! Ons moes diep in ons reserwegeld delf om ons dienste te lewer, wat onvolhoubaar is,” het prof. Johan Hattingh, voorsitter van die direksie, gesê.

Charleen Vermeulen, die bestuurder, het bygevoeg: “Skenkings van goedere is natuurlik baie welkom, maar ons het geld nodig om die dienste van ons twee maatskaplike werkers en 10 jeugsorgwerkers te kan behou om die 80+-kinders maandeliks fisiek en emosioneel te versorg. Ongeveer 2 400 etes word maandeliks vir honger kinders voorberei – dit is in baie opsigte hul enigste sekuriteit.”

Hattingh sê Jeuguitreik het die Stellenbosch-gemeenskap se insette nou meer as ooit nodig “om ons deure oop te hou, kinders in die skool te kry (en te hou) en te verhoed dat ’n straatkindprobleem weer die Stellenbosch-middedorp soos in die laat jare negentig begin teister”.

“Stellenbossers se insette kan die verskil maak!” het Hattingh gesê.

Skenk dus asb aan Youth Outreach by First National Bank, Takkode: 200610, Rek nr: 6206 53 74 375. Verwysing: (baie belangrik): U voorletter en van.

Stuur u bewys van skenking aan yo.stellenbosch@gmail.com sodat Jeuguitreik kan boekhou van u gewaardeerde bydrae.

Elke skenker ontvang ’n 18A-sertifikaat wat voordele vir persoonlike belasting inhou.

Help Jeuguitreik sodat kinders nie (weer) op straat beland nie.

You need to be Logged In to leave a comment.