Die resep vir ’n lang en gelukkige huwelik is eenvoudig – maak die Here deel daarvan.
Dit is die advies van Kathy (75) en Melvin (70) February van Cloetesville.
Die February-egpaar vier binnekort hul goue (50ste) huweliksherdenking nadat hulle destyds by ’n kuierplek in Rustenbergstraat, Idasvallei ontmoet het. Kathy sê sy en Melvin het summier tot mekaar aangetrokke gevoel. In 1974 het die twee toe by die plaaslike Metodistekerk ewige liefde aanmekaar beloof.
“Dit was nie maklik nie. Nou nog is daar oomblikke wat ons stry kry, maar dan maak ons weer lekker op. Die huwelik het ook beter gegaan nadat ek die Here in my lewe aangeneem het,” vertel Kathy.
Die egpaar het drie kinders – Melrick (49), Anchen (47) en Godwin (45).
Die egpaar meen ander paartjies wat dit tot ’n halwe eeu saam wil maak, moet gewis hul Skepper in die saak ken.
“Alle eer en erkenning aan die Here wat ons deurgedra het,” sê die February-egpaar.