60 kan nou klas draf mét skoene

Skoolkinders van die Longlands- informele nedersetting net buite Stellenbosch het gister (Woensdag 19 Januarie) met splinternuwe skoene skool toe gegaan.


Skoolkinders van die Longlands- informele nedersetting net buite Stellenbosch het gister (Woensdag 19 Januarie) met splinternuwe skoene skool toe gegaan.

Dit is danksy die liefdadigheidswerk van die welsynorganisasie Wings of Love and Hope WoLH, wat altesaam 60 paar skoene aan minderbevoorregte leerders geskenk het.

“Ons is bly dat ons kon help om ten minste 60 van die kinders met skoolskoene te help. Dit is nie baie nie, maar ten minste is daar ouers wat nie meer oor skoolskoene bekommerd hoef te wees nie,” het Stephanie Heneke van WoLH gesê.

“Dit is ons ‘Back-to-School’-projek, omdat ons weet dit gaan moeilik in die ekonomiese omstandighede en ouers weet nie altyd waar hulle die geld gaan kry om skoene te koop nie. Dus het ons op sosiale media ’n beroep gedoen vir skenkings en ook Stellenbosch-Superspar genader vir hulp omdat hulle ’n veldtog gehad het met skoolskoene, waar jy skoene teen R50 kan koop wanneer jy ’n sekere bedrag by die Spar bestee,” het Heneke gesê.

Sy sê hulle het die geleentheid gesien en Spar genader, wat uiteindelik altesaam 39 paar skoene vir die projek geskenk het.

Die organisasie het ook ’n suksesvolle Santa Shoebox-veldtog in Desember gehou waar Kersgeskenke aan kinders van Longlands gegee is.

“Ons wil almal bedank vir hul bydrae tot hierdie projekte – veral Godfrey Adams, wat vir twee kinders wat die eerste keer skool toe gaan, alle skryfbehoeftes, klere en skoene geskenk het,” voeg Heneke by.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.