Die Big Brag, wat die tweede sewestoernooi van die Pniël Villagers-rugbyklub voorafgaan, word Vrydag (16 Februarie) gehou, voordat die toernooi Vrydag 23 en Saterdag 24 Februarie in die dorp plaasvind.
Altesame 130 plaaslike rugbyspelers neem aan die toernooi oor die twee dae deel en ’n optog, begelei deur motorfietsryers deur die strate van Pniël, vind om 18:00 plaas en eindig om 19:00 op die sportveld. ’n Kort program sal volg om die verrigtinge in te lui. Toegang Vrydagaand is gratis.
“Die toernooi word aangebied om die spelers die kans te gee om hulle reeds vroeg fiks te kry en momentum op te bou vir die fisieke uitdaging wat die 2024-seisoen inhou. Twee dae van pret, bloed en sweet word beloof en ondersteuners sal nie teleurgesteld wees nie. Die 7’s sal aan Wêreldrugby, die Westelike Provinsie- en die Suid-Afrikaanse-rugbyunie se formaat voldoen en groot sorg sal veral aan die veiligheid van spelers gegee word,” sê Winston Stubbs, voorsitter van die klub.
Volgens hom sal elke speler, ondersteuner, beampte en borg met die toernooi identifiseer en die doel is om die 7’s ’n jaarlikse produk van die Dwarsriviervallei sal maak.
“Ons het 10 spanne wat gaan deelneem en elke span verteenwoordig ’n land, nes verlede jaar, in die land se kleure, eie aan hul identiteit. Verlede jaar het die Franse die toernooi gewen, maar vanjaar verwag ons kwaai teenstand van spanne soos Engeland, Nieu-Seeland, Australië, Fidji, Wallis, Ierland, Argentinië, Japan en Suid-Afrika. Ons nooi ook alle oud-spelers en vriende om die toernooi by te woon en te ondersteun,” sê Stubbs.
Die toernooi word amptelik Vrydag 23 Februarie om 18:00 op die sportveld geopen. Alle deelnemende spanne sal aan die openingseremonie deelneem. Die 10 spanne sal ondersteun en vergesel word van oud-Pniël Villagers-spelers in spanne van ses verskillende eras, naamlik die 1960’s, 70’s, 80’s, 90’s, 2000’s en die 2010’s.
“Oud-spelers word genooi om die geskiedkundige geleentheid by te woon en deel te wees van die verrigtinge. Die uitnodiging geld ook die ondersteuners van die spanne,” sê Stubbs.
- “Verskillende stalletjies is beskikbaar waar allerlei te koop sal wees, maar die kosverkope sal net by die snoepie hanteer word. ’n Kroeg is beskikbaar en sal alle verkope hanteer. Stalletjies is nog beskikbaar. Kontak Lisa Myburgh by 062 293 2869 met navrae.”