Ronald Frans, hoof van Klapmuts Primêr, is Donder­dag 23 Augustus by ’n prys­uitdeling by Rhenish Girls’ High deur die Wes-Kaapse onderwysdeparte­ment vereer.

Die Nelson Mandela Lifetime Achievement-eerbewys vir die Kaapse Wynland-distrik is by dié geleentheid aan hom oor­han­dig.

Hierdie prys is een van verskeie eerbewyse wat jaarliks deur die departement aan onderwysers oorhandig word wat volgens hulle uitnemende diens gelewer het.

Hy dring nou deur na ’n volgende ronde waar hy teen ander onderwysers van die provinsie sal meeding en het ’n kans om dan ook na die nasionale ronde deur te dring.

Klapmuts Primêr is die grootste laerskool in die Wynland-distrik. Met 1 506 leerders is die skool tot oorlopens toe vol terwyl Klapmuts steeds aanhou uitbrei.

Luidens die motivering vir sy benoeming, word Frans beskryf as ’n entoesiastiese leier wat altyd professioneel is en geduldig te werk gaan om die beste uit die mense om hom te kry.

Hy gee ook baie vir sy mense om en het die vermoë om ander te inspireer.

Dat hy kalm kan bly in spanningsvolle situasies soos afsprake met ouers of die beheerliggaam, geleenthede om geld in te samel en eksamens, is ook indrukwekkend.

Frans het ook ’n sterk verhouding met Remgro deur die Partners for Possibility Leadership-program. Dié program het al baie geleenthede vir die skool se personeel geskep.

Frans het ook al op verskeie maniere teruggeploeg in die gemeenskap deur die skool se biblioteek en rekenaarsentrum, die skoolsaal en selfs groentetuine met die inwoners van Klapmuts te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.