Aansoeke oop

Die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) het bekend gemaak dat voornemende voorgraadse studente nou om finansiering aansoek kan doen nadat die aansoekproses op Vrydag 1 Julie geopen het. Studente kan tot 30 Se


Die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Voorgraadse Beurse en Lenings (SVBL) het bekend gemaak dat voornemende voorgraadse studente nou om finansiering aansoek kan doen nadat die aansoekproses op Vrydag 1 Julie geopen het. Studente kan tot 30 September aansoek doen om finansiering.

SVBL vorm deel van die US se afdeling finansies. ’n Span kundige finansiële hulppraktisyns gee leiding aan voornemende en huidige voorgraadse studente wat finansiële hulp nodig het deur beurse op ’n volhoubare wyse toe te staan en te administreer.

“Finansiële tekorte behoort nie ’n voornemende student daarvan te weerhou om by die US in te skryf nie,” sê Bianca Andrews, SVBL-beursbeampte. “Sodra ’n voornemende student voorlopige toelating tot ’n program gekry en ’n studentenommer ontvang het, kan die student die finansieringsopsies wat op ons nuwe webwerf hier beskikbaar is, ondersoek.”

Andrews sê die US ken nie net beurse toe op grond van finansiële behoeftes nie, maar ook vir akademiese meriete. Sy het studente aangemoedig om die webwerf te besoek. “Ons het baie eksterne skenkerbeurse beskikbaar, en studente moet kyk of hulle daarvoor kwalifiseer. Ons moedig ook huidige voorgraadse studente aan wie se gesin se finansiële situasie die afgelope jaar verander het, of wat ’n tweede en/of derde broer of suster by die Universiteit wil inskryf vir die komende akademiese jaar, om die beskikbare finansieringsopsies te hersien en aansoek om finansiële hulp te doen.”

Studente wat om finansiering aansoek wil doen, moet dit via die my.sun.ac.za-portaalskakel doen. Neem asseblief kennis dat slegs laat toelatings ’n verlenging van twintig (20) dae toegestaan sal word tot en met 30 November 2022. Vir navrae, kon­tak die studentekliëntekontak­sentrum by 021 808 9111.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.