Motoriste oor die land heen het ’n sug van verligting geslaak nadat die voorgestelde Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) en die Aarto-wysigingswet ongrondwetlik en ongeldig bevind is.
Die hooggeregshof in Pretoria is gevra om te oorweeg of die nasionale regering, deur ’n enkele nasionale stelsel te skep om padverkeer te reguleer, die eksklusiewe wetgewende bevoegdheid van provinsies oortree het om provinsiale en munisipale verkeer te reguleer.
Die hof het verlede week bevind dat die nasionale regering inderdaad hierdie eksklusiewe provinsiale bevoegdheid oortree het. Dit volg nadat regter Annali Basson Donderdag ’n bevel in die Pretoriase hooggeregshof uitgereik het wat die Aarto-wet sowel as die Aarto-wysigingswet ongrondwetlik en ongeldig verklaar.
Volgens ’n verklaring wat deur Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, uitgereik is, word die hof se besluit verwelkom.
Volgens Mitchell was die Wes-Kaap die enigste provinsie wat nie aspekte van die Aarto-wet en die Aarto-wysigingswet tydens die Nasionale Raad van Provinsies se wetgewende proses ondersteun het nie.
“Die departement ondersteun wetgewing wat verskillende meganismes soos die voorgestelde Aarto-merietestelsel instel. Ons verwelkom alle wetgewing wat ons paaie werklik veiliger sal maak. Daar is egter ’n aantal kwessies in hierdie wette wat ons tydens die wetgewende proses geopper het en wat ons glo nie voldoende aangedurf is voordat hierdie wette in werking gestel is nie,” het hy bygevoeg.
Layton Beard, woordvoerder van die Automobielvereniging (AA), het ook in ’n verklaring gesê die AA verwelkom die uitspraak, wat die standpunt wat die AA nog altyd oor Aarto en die probleme wat daarmee gepaard gegaan het, bevestig het.
Die AA het voorheen sy kommer uitgespreek oor die implementering van Aarto, en verklaar hoewel dit die instelling van ’n puntestelsel ondersteun soos in Aarto beoog is, is die huidige regulasies meer gerig op inkomste-invordering en nie om padveiligheid te bevorder nie.