’n Plaaslike sekuriteitsmaatskappy, ABC Security, het onlangs ’n suksesvolle gholfdag aangebied ten bate van ’n inwoner wie se lewe onomkeerbaar deur misdaad verander is.
ABC Security het Vrydag 19 April dié geldinsamelingsgholfdag ten bate van Benje Momberg by die Stellenbosch-gholfklub gehou. Momberg is Saterdag 9 September 2023 by die kuierplek Upstairs geskiet (“Sakeman in roof verlam”, Eikestadnuus, 14 September 2023). In dié voorval is sy ruggraat en long getref, wat hom ’n kwadrupleeg gelaat het.
Ten spyte van vele uitdagings is Momberg nou op en aan die gang met ’n positiewe uitkyk op die lewe.
Volgens ABC Security het die maatskappy besluit om die dag ten bate van Momberg te hou as deel van hul “terugploeg in die gemeenskap”.
“Ons glo vas Benje se vasberadenheid en veerkragtigheid sal lei tot ’n suksesvolle herstel, en ons wil deel wees om te verseker dat hy in staat is om die doelwitte te bereik wat hy vir homself gestel het,” het ’n woordvoerder vir die span gesê.
Ná kostes is ’n bedrag van R90 000 vir Momberg ingesamel en Stephen Nelson van ABC Security en lede van die sekuriteitsmaatskappy se senior bestuur het Dinsdag (14 Mei) amptelik die skenking aan Momberg oorhandig.
“Ons as bestuur by ABC Security glo ons het met die dag en die geld wat ingesamel is vir Benje so ’n klein hupstootjie gegee om sy finansiële struikelblokke te oorbrug.”
ABC Security bedank al die ondersteuners en medewerkers wat die dag moontlik gemaak het.