Adam Small-feestyd hier

Pniël, die klein asemrowende dorp wat voorheen die sendingstasie in die Dwarsriviervallei was, bring Saterdag 26 Februarie weer hulde aan Adam Small, die digter, skrywer, politikus en akademikus, met ’n literêre fees.


Pniël, die klein asemrowende dorp wat voorheen die sendingstasie in die Dwarsriviervallei was, bring Saterdag 26 Februarie weer hulde aan Adam Small, die digter, skrywer, politikus en akademikus, met ’n literêre fees .

Die feesdag begin om 08:30 en eindig omstreeks 19:00.

Die eerste Adam Small-fees is in Februarie 2017 oor ’n naweek in Pniël gehou. Dit sal dus hierdie jaar die vyfde verjaarsdag van die fees wees.

Die fees word deur die Pniël-erfenis- en kultuurtrust aangebied met prof. Darryl David, bekende boekefees-organiseerder, as programleier.

Van Darryl se bekendste feeste is die Bookbedonnerd-fees in Richmond, die Breyten Breytenbach-boekefees in Montagu en die enigste Kinderboekfees in Suid-Afrika.

’n Uitvloeisel van die Adam Small-fees was die stigting van ’n skryfskool by die Pniël-museum, onder leiding van die bekende skrywer Diana Ferrus en die bekendstelling van die digbundel “Voetspore, ’n Pniëlse Digbundel” in 2021, saamgestel deur Matthew Cyster.

Kom kuier lekker saam in die Pniël-museum se teetuin en geniet die asemrowende uitsig in die skadu van die majestieuse Simonsberg, terwyl bekende sowel as opkomende skrywers en digters hul literêre werke voorlees en hul stories vertel.

Die program sluit in: Diana Ferrus en twee groepe skrywers van haar skryfskole in Wellington en Pniël; en Kyle Jantjies, ’n jong onderwyser wat reeds ’n hele aantal boeke geskryf het.

Die ATKV, Vriende van Afrikaans en Afrikaans.com koördineer Gesprekke Ommietafel met Julian Jansen (senior joernalis) en Lyntjie Jaars (storieverteller en bekende op TV).

Die middagprogram belowe bekende internasionale skrywers soos Cathy Park, Nancy Richards, Karen Jennings en Christa Kleynhans.

Gaireyah Fredericks en ’n groep digters van die Lokxion Poetry Group sluit die literêre program af, waarna Natalia da Rocha en die Applauze Art-orkes die fees afsluit met die vertoning Adam Small Bejazzed“a tribute to Adam Small’s poetry, the language, the people, the man himself, whose voice authorities tried to silence, a voice that brought “Kaaps” to a status worthy of the people who speak it, our political landscape then and now, showcased on a musical platform through Jazz, Blues and Hip Hop”.

Kaartjies vir hierdie vertoning kos R50.

Die vertoning is ’n baie gepaste afsluiting van ’n dag wat toegewy word aan Adam Small, ’n groot literêre ikoon.

“Ek twyfel nie aan die toekoms van Afrikaans nie; solank daar mense is wat Afrikaans praat, sal die taal bestaan.” – Adam Small

Van die skrywers se boeke sal te koop wees.

Die fees word gratis aangebied, maar skenkings is welkom. Tuisgemaakte verversings uit Pniël se kombuise sal ook te koop aangebied word.

Pniël het sy eie kookboek by die 2020- Adam Small-fees vrygestel, so kom proe gerus hoe die mense hier kan kook!. Stuur e-pos na pnielmuseum@gmail.com of besoek www.adamsmallfees.co.za vir nog inligting. Navrae kan gerig word aan Janine Myburgh by 072 245 1415 of Darryl David by 062 187 8399.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.