Adam Small se nalatenskap geëer

Prof. Adam Small is al beskryf as “’n filosoof as digter, maar ook ’n as digter as filosoof”.


Prof. Steward van Wyk, skrywer Willem Fransman en Mandi Ehlers van die ATKV by die Adam Small-gedenklesing.

Prof. Adam Small is al beskryf as “ ’n filosoof as digter, maar ook ’n as digter as filosoof”.

Hoe dít deurslag in sy werk gevind het en bygedra het tot die weerspieëling van die samelewing, was die eerste vraag wat Mandie Ehlers, van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) aan skrywer Willem Fransman en prof. Steward van Wyk, by die Adam Small-gedenklesing Saterdag 22 Februarie in die Pniël Congregational-kerksaal gestel het.

Small se literêre en sosiale nalatenskap was die tema van die gedenklesing by die jaarlikse Adam Small-fees waar daar hulde en eer aan hom gebring word. 

Van Wyk, wat onder meer hoof van die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland is, het begin deur te sê dat Small inderdaad sy formele opleiding as filosoof ontvang het, waar hy sy tesis oor die filosofie van Nicolai Hartmann geskryf het. 

“Soos hy gesê het, was dit Hartmann se filosofie van omgee wat hom baie getrek het. ’n Mens kan verstaan hoe hy onder daai denkrigting beweeg het van die filosofie na die maatskaplike werk. Ek dink in terme van sy filosofie-ondervinding vat hy baie aansluiting by N.P. van Wyk Louw met sy ou liberale denke van die oop samelewing en die oop gesprek.

“Die feit dat ’n mens moet omgee vir sy medemense en dat jy respek moet hê vir die menslikheid van ander, het ook deurslag in sy werk, in vroeë gedigte gevind waar hy absoluut geïdentifiseer het met die lot en noodlot van die minderbevoorregtes in die samelewing en dit is dan juis ook wat aanleiding gee tot die kritiek wat hy op Apartheid gehad het, want Apartheid is dan juis so ’n stelsel wat mense van hul menswaardigheid ontneem het,” het Van Wyk gesê.

Fransman het tussen hul kommentare die gehoor bekoor met sy voorlesings van sekere gedigte van Small.

Ehlers het toe die gesprek oor Small se bydra tot die bevordering van Kaaps met sy voorwoord/naskrif in sy digbundel Kitaar my Kruis van 1962 voorgelees wat lui: “Kaaps is nie wat sekere Engelse mense in Suid-Afrika Capey noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gammat-taal noem nie. Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: ’n taal in die sin dat mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal?.?.?. en hul doodsroggel roggel in hierdie taal.” 

Oor Small se bydra tot die verandering van Standaard-Afrikaans en Kaaps-Afrikaans, het Van Wyk onder meer gesê Small was eintlik die eerste een wat op ’n volle skaal onderneem het om Kaapse skrywes te doen. “Ons het gedigte wat in Kaaps geskryf is in verskeie van sy bundels gesien. Small gebruik eintlik Standaard-Afrikaans, Engels en Kaaps op ’n baie vernuftige manier. Die verskeurdheid in Small se toneelstuk, Kanna Hy Kô Hystoe, word juis ook uitgebeeld deur die taal wat gebruik word. As Kanna oorsee is en terugkom om sy mense op te hef, dan praat hy Standaard-Afrikaans, maar as hy identifiseer met sy mense, dan praat hy Kaaps. Dit wys jou die twee spul in die karakter.”

Volgens Van Wyk identifiseer Kaaps met die gewone mense op straat – iets wat ook te sien is in Small se Krismis van Map Jacobs waar een van die karakters Engels praat wanneer sy neersien op mense en nog ’n karakter wat net die “hoë Afrikaans” praat. 

“Julle is die regte poets, die gewone mense wat op straat loop,” het Van Wyk toe gesê in verwysing na die gedig Wie’s hy?

Van Wyk sê verder: “Daai mense se taal is Kaaps so dis ’n manier om te identifiseer met gewone mense. Small maak ook baie sterk gebruik van volkse rympies- en uitdrukkings. Dis ’n manier om aansluiting te vind, om te identifiseer, maar dis ook eintlik ’n manier om die mense se uitdrukkings op te hef en waarde te gee. Mense is mos geneig om neer te sien op die armes en eenvoudiges, maar juis deur te praat in hulle taal en hulle uitdrukkings te gebruik, wil hy eintlik die mense, maar ook hulle taal, ophef.”

Fransman beskryf Small as “die teen-die-grens-skrywer van sy tyd”. “Hy het aanvanklik in sy prosawerk standaard geskryf, maar dan kom jy agter, ten spyte van sy Verse van die liefde – sy eerste bundel wat in standaard oftewel ‘aanvaarbare’ Afrikaans was, skryf hy steeds hierdie taal van sy mense. Hy het sy hartswerk in Kaaps gedoen.

“Daar is sommige woorde wat jy sou dink in ‘Wie’s hy?’ eintlik anders gespel moes word, maar hy vervreem hom nie van sy Standaard-Afrikaans-sprekers- of skrywers in sy digkuns nie. Hy gebruik Kaaps, maar subtiel.

Kaaps en Adam Small is onlosmaaklik deel van mekaar.

Volgens Fransman het Small, wat ’n dosent was, ’n waardigheid aan Kaaps gegee. “Dit was nie ’n Capey of ’n skollietaal nie. Dit was ’n taal wat ’n universiteitsdosent op papier neergesit het. Saam met daai waardigheid wat hy saam met hom gedra het, het mense ook met ’n ander oog na Kaaps gekyk. Hy het ’n waardigheid aan die taal gegee, wat ons tot vandag toe het. Die waardigheid wat aan Kaaps op die oomblik verleen word, se wortels gaan jy by Adam Small kry,” het Fransman gesê voordat hy ’n energieke voorlesing van ‘Wie’s hy?’ gedoen het.

Na afloop van die gesprek het Lina Spies, haar gedig, “Dekrete van Deernis”, ’n huldeblyk aan Small uit haar bundel, Sulamiet, voorgelees. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.