“‘n Lont is nou aan die brand gesteek. Daar is lank genoeg agter wollerige mooiwoordjies weggekruip.”
So het die Adam Tas-studentevereniging in ‘n verklaring bekendgemaak hulle is gereed om Universiteit Stellenbosch (US) die stryd aan te sê ná die aankondiging van die universiteit se nuwe taalbeleid.
Die aankondiging dat Engels voortaan as die primêre voertaal van die US gebruik gaan word, is Vrydag 13 November gemaak ná ‘n ‘n buitegewone vergadering Donderdag 12 November plaasgevind het.
Luidens Adam Tas se verklaring sal dié dag as ‘n dag van “blatante tirannie” onthou word.
“Dit sal ‘n dag wees wat in die verstande van die liefhebbers, sprekers, beleggers en belangstellendes van Afrikaans, isiXhosa en al agt ander Suid-Afrikaanse amptelike inheemse tale, asook die antieke Nama-, San-, en Khoi-tale, verewig word as ‘n dag waar gemiddelheid bo uitnemendheid geseëvier het.”
Luidens die verklaring is Adam Tas gereed om voort te veg vir Afrikaans se huidige posisie as ‘n gevestigde akademiese en institusionele taal op die US, om sodoende ook die weg vir isiXhosa se aktiewe ontwikkeling en opheffing te baan, en leiding te neem in die stryd om die bevordering en ontwikkeling van ons land se inheemse tale op hoër onderwys-vlak in die algemeen.
“Julle het sopas hierdie vereniging en almal wat erns het met Afrikaans en sy strydmakker isiXhosa, op die frontlinie geplaas van die begin van niks anders as ’n Derde Taalstryd nie.”
Adam Tas beweer die volgende prosedurele ongeregte kom in die beleidsdokument voor:
- ‘n Tekort aan demokratiese deelname aangesien slegs Sasco en Open Stellenbosch by die besprekings betrokke was.
- Die beleidvoerende proses op ‘n onderduimse manier plaasgevind het.
- Die tydsberekening van die aankondiging verdag is.