Die Stellenbosser Adri Carstens is die afgelope naweek vir die tweede keer as Speler van die Wedstryd aangewys in die Telkom Nasionale Netballiga.
Carstens speel vir die Wes-Kaapse Tornado’s, wat deur Freda Kemp, ook van Stellenbosch, afgerig word.
Die Tornado’s speel in Afdeling B van die nasionale liga en is ná vyf wedstryde steeds onoorwonne. Die wenner van dié afdeling kry die geleentheid om na Afdeling A van die netballiga bevorder te word. Dit sal bepaal word met ’n promosie-relegasie-wedstryd.
Carstens was Speler van die Wedstryd in die kragmetings met die Sonoblomo en Lilies. Dié senterbaan-speler is ’n lid van die Van der Stel-netbalklub en speel vir die Aramex Eagles. Sy was vroeër vanjaar lid van die span wat in die eindstryd van die ClemenGold DNL-toernooi gespeel het.
“As span het ons besluit om dit een oomblik op ’n slag te vat tot by die eindstryd en dan die promosie-wedstryd. Ons sal ons alles gee om op te skuif na Afdeling A. Dit sal netbal in die Wes-Kaap nóg sterker maak,” sê Kemp.
Die volgende ronde wedstryde word die naweek gespeel. Aksie sal nog vir die volgende drie naweke tot die finale dag op 1 Julie plaasvind. Alle wedstryde in die TNL word regstreeks op SuperSport (kanaal 209) uitgesaai.