Die tafel is gedek vir Akademia se heel eerste kampus-opedag in Paarl, en die opwinding loop hóóg in die Wes-Kaap.

Voornemende Fonties word hartlik uitgenooi om Vrydag 9 en Saterdag 10 Mei in hul dagboeke aan te teken en só hulself nie net van hul studiemoontlikhede in 2026 te vergewis nie, maar ook om pionierspore tydens hierdie geskiedkundige geleentheid te kom trap.

Die opedag sal by die instelling se Paarl-sentrum (Bredastraat 1, Esterville) plaasvind en sal uit twee sessies bestaan. Die eerste sessie sal Vrydag 9 Mei om 15:30 begin terwyl die tweede sessie op Saterdag 10 Mei om 09:00 ‘n aanvang sal neem.

In hierdie sessies sal voornemende studente, ouers en voogde die geleentheid hê om met dosente, bemarkingsraadgewers én huidige studente te gesels en op dié manier kennis te maak met die aard en wese van die instelling.

Akademia se Paarl-kampus

Akademia bou in 2026 voort op sy reeds bestaande Wes-Kaapse sentrumnetwerk in onder meer George, Paarl en Somerset-Wes, waar Fonties hul studie via die nauurse afstandsmodel aanpak.

Die Paarl-kampus sal verder gestalte gee aan Akademia se voltydse kampusmodel, soos wat dit reeds in Centurion die geval is, en sal in sy vestigingsjaar ‘n studietuiste vir sowat 340 eerstejaarstudente wees. Fonties sal hier nie net toegang tot die instelling se vyf fakulteite hê nie, maar ook kan deelneem aan ‘n bruisende en eiesoortige studentelewe.

Prof. Gawie du Toit, wat tans die waarnemende dekaan van die fakulteit opvoedkunde by Akademia is, is die hoof van dié kampus. Du Toit is langer as 35 jaar aktief betrokke in die Suid-Afrikaanse hoëronderwyssektor as onder meer navorser, departementshoof, kurrikulumontwikkelaar, programdirekteur en senior bestuurder.

Die volgende programme sal met die aanvang van die 2026- akademiese jaar voltyds by dié kampus aangebied word:

• Fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe: BCom (ekonomie en regte); BCom (finansiële en bestuurrekeningkunde); BCom (ondernemingsbestuur) en BCom (rekeningkunde);

• Fakulteit geesteswetenskappe: BA (kommunikasie en joernalistiek) en BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie);

• Fakulteit natuurwetenskappe: BSc (rekenaarwetenskappe) – slegs die sagtewareontwikkeling-stroom;

• Fakulteit opvoedkunde: BEd (grondslagfase-onderwys) en BEd (intermediêre-fase-onderwys);

• Fakulteit regsgeleerdheid: LLB

Bespreek vandag nog jou plek by dié opedag en kom ervaar Fontie-wees én pionierskap vir jouself. Aanlyn studieaansoeke vir die 2026- akademiese jaar het op Dinsdag 1 April geopen.

*Fonties verwys na studente wat aan Akademia studeer.

You need to be Logged In to leave a comment.