Ben Malan is al vir meer as 28 jaar ’n onderwyser by Hoërskool Stellenbosch.Foto: Elmarine Anthony


Toe Ben Malan (53) aanvanklik as onderwyser by die Hoërskool Stellen­bosch begin werk het, was dit net om af te los in die plek van iemand wat op studieverlof was.

Dis nou 28 jaar later en hy is die onderwyser wat die langste by die skool is.

Malan, oorspronklik van Gauteng, dink eers ’n rukkie voordat hy die vraag oor sy eerste dag as onderwyser beantwoord, want hy het ’n week te vroeg opgedaag.

“My pêlle het my gesê hulle het al die vorige week begin. Toe jaag ek hier af Kaap toe. Op my eerste dag toe kom ek agter hier gaan niks aan nie. Die volgende week toe sien ek hier begin die skool nou,” vertel Malan wat nou die adjunkhoof is.

Hy onthou die skool was heelwat kleiner met minder personeel. Hy het nie sy eie klas gehad nie en het deur die skool “rondgeswerf”. In sy eerste paar jaar het Malan, wat hoofsaaklik aardrykskunde en geskiedenis aanbied, ook vakke soos sang gegee.

“Dit was lekker tye. Die skool het my baie geleenthede gegee om nuwe dinge te leer. Die Hoërskool Stellenbosch het jou nie beperk nie.”

Hy het ’n kadetorkes op die been gebring en was by baie buitemuurse aktiwiteite, soos sport, betrokke.

Hoewel hy reeds 28 jaar by dieselfde skool werk, sê hy sy werk bly interessant omdat die skool heelwat verander het. Hy werk nou saam met sy vierde skoolhoof wat elkeen verskillende maniere van doen het.

“Elkeen het sy eie styl en sterkpunte gehad – sy eie drome en visie vir die skool. Jy moes elke keer die nuwe ou se manier van doen verstaan. Dis wat dit interessant gemaak het.”

Al geniet hy elke oomblik van sy werk, is daar een gedeelte wat vir hom uitdagend is – om toetse na te sien en administrasie te doen.

Administrasie het sowat tien jaar gelede, toe hy as adjunkhoof aangestel is, al hoe meer deel van sy posbeskrywing geword.

Dis duidelik Malan hou van gesels en hy is ’n mense mens. Hy sê die rede waarom hy nie veel van administrasie hou nie, is omdat hy dan geen direkte kontak met mense het nie.

“Ek hou van mense en my gunstelingtyd is as ek met die leerders werk,” sê hy. “Wanneer die ‘liggies’ in die kinders se oë aangaan nadat jy vir hulle iets verduidelik het wat hulle aanvanklik nie verstaan nie, is verskriklik lekker,” vertel Malan.

Hy sê met die skool se 50ste verjaardag het hy besef sy bydrae is maar net ’n druppel aan die emmer.

“Jy leer baie mense ken en as jy na die mense luister wat van die begin af by die skool betrokke was, dan verstaan jy nie net die skool en sy tradisies beter nie, maar ook jou rol vorentoe. Dis lekker om na staaltjies van die verlede te luister.”

Ná vyf minute in Malan se geselskap sal jy sommer wens hy was een van jou onderwysers. Vir honderde gelukkige leerders van die Hoërskool Stellenbosch wás hy en hopelik vir honderde meer in die toekoms.

You need to be Logged In to leave a comment.