AfriForum se Stellenbosch-tak het onlangs ’n nuwe bestuur verkies, wat nou aan die stuur van die plaaslike sake sal staan.

Die takbestuur is ook op die jaarvergadering op Donderdag 17 Oktober herorganiseer. Tommy van Zyl, AfriForum se koördineerder vir strategie in die Wes-Kaap, het as gasspreker opgetree en die vlam van selfdoen met positiewe woorde weer aangeblaas.

Karin Hanekom, voorsitter van die Stellenbosch-tak, het agtergrond gegee oor hoe die takstruktuur werk en oorsigtelik gepraat oor die tak se rol in die gemeenskap. Theo Turner, die buurtwagleier, het terugvoer gegee oor die buurtwag, hul suksesse en uitdagings en ook gespog met hul hommeltuig en die positiewe uitkomste wat al daarmee bereik is – veral in samewerking met die polisie.

Bill Hulme, beampte vir plaaslike regering en omgewingsake, het terugvoer gegee oor die belangrike aksie waarmee die tak besig is wat riool en die watergehalte van die Eerste- en Veldwachtersriviere betref. Die tak beplan om die water deur ’n onafhanklike laboratorium te laat toets nadat klagtes uit die gemeenskap oor dié riviere se vuil water ontvang is.

Die res van die nuwe bestuur is Ann Ligman (ondervoorsitter), Antoinette Tigar (sekretaris), Abraham Smit (tesourier), Lezane Ferreira (jeugbeampte) en Marinus Louw (projekte en werwing).

“Ons wil graag lede van die gemeenskap aanmoedig om by AfriForum se Stellenbosch-tak betrokke te raak en hulle te ondersteun om hierdie belangrike projekte te kan dryf,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article