Die burgerregteorganisasie AfriForum se buurtwag in Stellenbosch het verlede Donderdagaand (9 Februarie) ’n demonstrasie van nagsig-toerusting en hommeltuie aan die gemeenskap gelewer.
“Die besluit is geneem om die nuwe tegnologie, wat buurt- en plaaswagte help om misdaad te bekamp, aan die publiek te demonstreer,” sê Zel-Marí Gelderblom, ’n mediaskakelbeampte vir AfriForum.
Tydens die geleentheid het Rihan Nieuwoudt van Moorreesburg die nuutste nagsig-toerusting uitgestal en ’n demonstrasie gelewer. “Van hierdie toerusting het hitte-opsporingstegnologie en kan beweging tot so ver as twee kilometer naspoor. Beeldmateriaal kan afgelaai, gestoor en op groot skerms vertoon word. Flitsligte wat die omgewing tot een kilometer ver kan verlig, is gedemonstreer en die gemeenskap kon ook self die toerusting hanteer.”
Die tak het verlede jaar ’n hommeltuig aangeskaf, en buurtwaglede het ’n kursus bygewoon om te leer hoe om dit te beheer.
“Die hommeltuig het nagsigvermoë en Jac Pietersen, die buurtwagleier van Stellenbosch, het gedemonstreer hoe hulle verdagtes in die nag oor lang afstande kan opspoor. Die lugvleuel het die plaaslike polisie al verskeie kere ondersteun,” het Gelderblom bygevoeg.
Mense uit die gemeenskap asook mense wat ver gereis het, het die demonstrasie bygewoon om te sien watter toerusting beskikbaar is en watter tegnologie vir misdaadvoorkoming ingespan kan word.
“Misdaad raak meer georganiseerd en die misdadigers meer vindingryk. Dit noodsaak gemeenskappe om tegnologie in te span om hul buurt- en plaaswagte te ondersteun. AfriForum se lugvleuel is maar net een afdeling wat reeds meer as 80 hommeltuigvlieëniers landwyd opgelei het om gemeenskappe, die SAPD, soek-en-redding- en vele ander instansies te ondersteun,” sê Johan Crous, distrikskoördineerder vir die Boland.
Om betrokke te raak, of aan te sluit, stuur ’n SMS-boodskap met die woord “Boland” na 45350 (R1).