Die Stellenbosch-tak van AfriForum het in Oktober ’n boom aan ’n park in Onder Papegaaiberg geskenk én sy lede (van links) Jacques Benade (distrikskoördineerder in die Boland), Ria Crafford en Antoinette Tigar (sekretaresse) het dit help plant. As deel van boomplantmaand in September, het AfriForum landwyd gepoog om die toekoms vir die volgende geslag te help verseker. Die Stellenbosch-tak het besluit om ’n waterbessieboom te plant, spesifiek oor die hoë watertafel in die gebied wat veroorsaak dat sommige van die ander bome verdrink. Sou die gebied egter minder reënval ontvang, sal hierdie boom steeds ’n droogte kan oorleef. “Die Stellenbosch-tak wil die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by die tak sodat hy gereeld projekte soos dié kan aanpak en kan voortgaan om in die gemeenskap te bou en te verbeter. AfriForum wil ’n kultuur van selfdoen in gemeenskappe kweek en dit sal slegs met gemeenskapsbetrokkenheid verwesenlik word,” sê Benade.