Die atletiekafrigter Daniel Damon is vanjaar by Maties Sport, die Kaapse Wynland-sportfederasie en die Wes-Kaapse provinsiale sport-prysuitdelings as Afrigter van die Jaar aangewys.
Die provinsiale wenners is Vrydagaand (20 Oktober) tydens ’n spoggeleentheid in Kaapstad aangekondig. Hulle kom nou op ’n kortlys vir Saskok se sporttoekennings, waaruit die topdrie gekies word om in Februarie 2024 deel te neem om as die Suid-Afrikaanse Afrigter van die Jaar aangewys te word.
Hierdie drie toekennings kom ná aanleiding van sy atlete se prestasies waarvoor hulle ook op verskeie vlakke toekennings ontvang het.
Jana van Schalkwyk het by die Wêreld-studentespele in China ’n bronsmedalje gewen en was een van die benoemdes vir Maties Sport se Sportvrou vir 2023. Op haar beurt het Anli Engelbrecht brons by die Jeug-statebondspele in Trinidad & Tobago verower en sy is by die Wes-Kaapse provinsiale sportprysuitdeling as Nuweling van die Jaar aangewys.
Tydens die International Wheelchair and Amputee Games (Iwas) in Portugal verlede November het een van Damon se Paralimpiese atlete, Kerwin Noemdo, goud met ’n Afrikarekord in gewigstoot in sy klas (F46) gewen. Hy het ook ’n bronsmedalje by die Wêreld-Para-atletiekkampioenskap in Parys, Frankryk, verower. Hy is een van twee atlete wat reeds vir die 2024- Paralimpiese Spele gekwalifiseer het. Die ander atleet, Zanele Situ, is ook een van dié afrigter se atlete.
Die F57-o.20-atleet Mandeline Hoffmann is die SA rekordhouer in diskus en gewigstoot en sy spog ook met ’n bronsmedalje in gewigstoot, wat sy by Iwas gewen het. Dié twee atlete is as die Kaapse Wynland-sportfederasie se Sportman- en Sportvrou met ’n gestremdheid aangewys.