In ’n revolusionêre vertoon van Afrika-vindingrykheid het ’n elektriese motorfiets wat in Afrika ontwerp en gebou is en slegs deur die son aangedryf word, pas ’n baanbrekersreis van Nairobi in Kenia tot in Stellenbosch voltooi.
Navorsers van die fakulteit ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) het kragte saamgespan met Roam, ’n tegnologie-gedrewe elektriese mobiliteitsmaatskappy in Nairobi, om die Roam Air, ’n doelgeboude elektriese motorfiets wat in Kenia vir Afrika ontwerp is, te toets.
Die motorfietsspan het Woensdagoggend (16 Oktober) in Stellenbosch aangekom. Die tog het oor ongeveer 6 000 km deur Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië, Botswana en Suid-Afrika gestrek. Die span het op die tweede laaste dag 1 000 km op een dag afgelê om die suidpunt van Afrika te bereik.
Die Roam Air, wat deur die US vir navorsing en toetswerk geskenk is, is op hierdie reis uitsluitlik deur sonenergie aangedryf.
“Hierdie ambisieuse ekspedisie was ’n groot stap vorentoe om die potensiaal van volhoubare elektriese mobiliteit reg oor Afrika suid van die Sahara ten toon te stel,” sê Thinus Booysen, professor in ingenieurswese en stigter van die Elektriesemobiliteitslaboratorium by die US.
Die reis het Dinsdag 17 September begin toe die ondersteuningspan en ’n voertuiggebaseerde sonkragstasie uit Stellenbosch vertrek het. Hulle het die elektriese motorfiets by hul aankoms in Nairobi op Vrydag 27 September gaan haal. Die motorfiets is in die Keniaanse hoofstad deur Roam, ’n ontwikkelaar van elektriese busse en motorfietse, ontwikkel.
Die span, onder leiding van die PhD-kandidaat Stephan Lacock, het Sondag 29 September met hul terugtog deur ’n uiteenlopende reeks Afrika-landskappe gereis en uiteindelik Woensdag in Stellenbosch aangekom. Gedurende die reis is die motorfiets se omruilbare batterye uitsluitlik deur sonkrag gelaai, wat die lewensvatbaarheid van hernubare energie in werklike toepassings beklemtoon.
“Die voltooiing van hierdie tog oor 6 000 km is ’n geskiedkundige mylpaal vir die Roam Air as die eerste Afrika-vervaardigde elektriese motorfiets wat so ’n prestasie kon behaal. Dit is ’n bewys van ons verbintenis daartoe om die grense van elektriese mobiliteit te verskuif.
“Ons het van die uitdagende terreine tot die warm verwelkoming van plaaslike gemeenskappe die vonk van opgewondenheid in mense se oë gesien toe hulle besef hierdie motorfiets is in Afrika gebou. Ons samewerking met die US het die veerkragtigheid van beide ons spanne en tegnologie beklemtoon, wat bewys dat skoon energie nie net voertuie kan aandryf nie, maar ook blinker, meer volhoubare toekoms vir die vasteland inhou,” sê Masa Kituyi, produkeienaar van die Roam Air.
“Hoewel die span die tog suksesvol voltooi het, het hulle talle uitdagings langs die pad ondervind. Reënweer in die pragtige Malawi het moeilike rytoestande geskep, swak paaie het die voertuig se duursaamheid getoets, en lank staan by grensposte het duur vertragings gedurende kosbare dagligure veroorsaak,” sê Booysen.
“Probleme met sonkragverbindings wat nie bedoel is om daagliks ontkoppel te word en weer gekoppel te word nie, het die tog verder bemoeilik. Die span se veerkragtigheid en toewyding aan hul missie het hulle egter in staat gestel om hierdie struikelblokke te oorkom, wat die krag in samewerkende toegepaste navorsing en die lewensvatbaarheid van sonkrag-aangedrewe elektriese mobiliteitsoplossings op die vasteland toon.”
Hy voeg by dat die span die asemrowende natuurskoon van Afrika op die pad beleef het en ’n verskeidenheid wild teëgekom het, insluitend olifante, renosters, kameelperde, seekoeie, buffels, leeus, swartwitpense, bobbejane, ape en krokodille.
“Die reis deur Afrika se uiteenlopende landskappe het die belangrikheid daarvan herbevestig dat hierdie omgewings vir toekomstige geslagte bewaar moet word, en het getoon hoe skoon energie ’n rol in die beskerming daarvan kan speel.”
Volgens Booysen het die ekspedisie ook die groot potensiaal beklemtoon wat elektriese mobiliteit, aangedryf deur hernubare energie, het om mense se lewensbestaan reg oor Afrika te transformeer.
“Skoon-energie-oplossings dra nie net tot omgewingsvolhoubaarheid by nie, maar kan ook aansienlike ekonomiese en maatskaplike voordele bied. Deur afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verminder en vervoerkoste te verlaag, het sonkrag-aangedrewe elektriese mobiliteit die potensiaal om mense se lewensgehalte in landelike en stedelike gemeenskappe te verbeter. Die groot belangstelling wat talle plaaslike inwoners herhaaldelik in die Roam Air getoon en dadelik die lewensveranderende potensiaal van die motorfiets raakgesien het, is ’n bewys hiervan.
“Hierdie geskiedkundige reis dien as ’n kragtige bewys van die haalbaarheid van skoon, hernubare energie in die vervoersektor en verder die belofte wat dit inhou. Ons sien uit na verdere inisiatiewe wat sal voortgaan om die potensiaal van volhoubare mobiliteit deur die Afrika-vasteland te ondersoek en uit te brei.”
Prof. Sibusiso Moyo, viserektor vir navorsing, vernuwing en nagraadse studies aan die US, het die span gelukgewens en gesê hul ambisieuse reis was geen geringe prestasie nie:
“Dit is vermoedelik die eerste keer dat elektriese motorfietse wat in Afrika ontwikkel is, die sowat 6 000 km met slegs sonkrag as energiebron afgelê het. Hierdie projek getuig nie net van die vasberadenheid van die navorsingspan nie, maar toon ook Afrika-vindingrykheid op sy beste.
“My opregte dank aan Roam, ons navorsingsvennoot, vir die skenking van die twee Roam-elektriese motorfietse aan die Elektriesemobiliteitslaboratorium.”