Die harde werk en toegewydheid van sers. Justin Afrika werp goeie vrugte af.
Afrika, wat by die Franschhoek-polisie gestasioneer is, is verlede Donderdag (18 Augustus) op Agri Wes-Kaap se jaarkongres met ’n toekenning vereer. Hy is aangewys as die Wes-Kaap se top- landelike sektorbevelvoerder in die provinsie by ’n seremonie by die ATKV-Goudini Spa op Rawsonville.
“Ek voel baie geëerd oor die toekenning. Ek is ’n baie nederige mens en die toekenning het as ’n verrassing gekom. Ek het dit glad nie verwag nie. Soos hulle gesê het, dit is vir die harde werk wat ek gedoen het oor die jare. Op ’n manier voel ek dat ek die toekenning verdien,” sê Afrika met groot trots.
Nadat hy sy skoolopleiding voltooi het by Groendal Sekondêr, het Afrika ’n diploma in menslike hulpbronne aan Boland Kollege in die Paarl verwerf. Daarna het hy in 2005 by die polisie aangesluit. Hy is vanjaar al 17 jaar in diens as ’n beampte. “Dit was my droom om ’n polisieman te word. Dit is my roeping. Van die begin af toe ek as polisieman begin werk het, het ek altyd my werk na die beste van my vermoë gedoen en altyd my beste gegee.”
Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri Wes-Kaap se landelike veiligheidsbeleidkomitee, het die toekenning aan Afrika oorhandig en Afrika beskryf as ’n mens wat ’n positiewe bydrae lewer tot sy kantoor, en met inisiatief werk om misdaad aan te pak in die landelike gemeenskap van Franschhoek.
Kol. Frederick Rossouw, Franschhoek-polisie se stasiebevelvoerder, is baie trots op Afrika, wat volgens Rossouw een van die uitstaande lede is wat saam met hom werk.
Rossouw vertel hy het deur die jare baie vir Afrika aangepor om sy goeie werk voort te sit. Hy ken ook Afrika as iemand wat lief is om te leer, en wat baie respek uit die gemeenskap ontvang.
“Hy sal nooit nee sê om sy werk te doen nie. Hy is altyd professioneel en spoedig. En dan het die gemeenskap ’n baie hoë agting vir hom. Hy werk op ’n menslike manier met die mense. ’n Uitmuntende polisieman.”