’n Nuwe muurskildery, die 30ste een, is onlangs deur Afrikaans.com by Laerskool Rietenbosch onthul.
Volgens Ingrid Erlank van Afrikaans.com poog die muurkunsprojek om deur kleurryke muurskilderye, wat binne die gemeenskap se konteks verstaan word, die lekker van Afrikaans in skoolverband uit te lig.
“Die doel is om die skoolomgewing mooi en inspirerend te maak en kinders se verbeelding vlerke te gee en hulle sodoende aan te moedig om Afrikaans met passie en oorgawe te geniet en te gebruik.”
Prof. Niel Krige, voorsitter van die Het Jan Marais Nationale Fonds, wat ook by die muurprojek betrokke is, het die belangrikheid van moedertaalonderrig en veeltaligheid beklemtoon.
“Dis belangrik om in meer as een taal te kan kommunikeer. Ek wil hê julle moet Afrikaans as julle geheime wapen sien. Dis belangrik dat julle ook in Engels kan kommunikeer. Veeltaligheid dra verskeie voordele, onder meer dat dit kinders meer geleenthede in Suid-Afrika en elders gee. Veeltalige kinders presteer ook beter in die meeste vakgebiede.”
By dié geleentheid het die rymkletser en Pasella-aanbieder, Oxjijin, ’n paar gedigte opgevoer en ’n deel van sy agtergrond met die leerders gedeel.
Leerders het verskeie opvoerings gedoen. Die graad 1’s het veral die kollig gesteel toe hulle hul taalvermoëns met ’n opvoering van “die alfabet” uitgebeeld het.