By Stellenzicht Sekondêr is die bevordering van Afrikaans ’n prioriteit.
Dié skool het besef sosiale media, SMS-taal, groepsdruk en sosiaal-maatskaplike probleme dra by tot die drastiese afname in basiese taalvaardighede en dat ’n groot persentasie leerders landwyd hul hoërskoolloopbane met ’n agterstand aanpak. Nie net wat die vak Afrikaans as huistaal betref nie, maar in alle vakke.
Só het die Vriende van Stellenzicht in 2015, onder leiding van Dale Simons en die skoolhoof, Lester Allies, en sy personeel koppe bymekaargesit en besluit om tyd in te ruim vir ekstra Afrikaanse lees-, begrip- en spelperiodes vir graad 8 en 9.
’n Jaar later is Alfred Christians, ’n afgetrede onderwyser en inwoner van Jamestown, aangestel om bykomende Afrikaans-lesse by die skool aan te bied. ’n Groot groep leerders is geïdentifiseer wat individuele aandag nodig het.
’n Oudonderwyseres, Ria Engelbrecht, het van die projek te hore gekom en is sedert 2016 as vrywilliger betrokke.
“’n Tekort aan leerkragte en ’n gebrek aan tyd het al verskeie kere amper die projek in die wiele gery, maar ek en Alfred wou nie moed opgee nie.
“Ons het met ’n plan van aksie vir 2017 vorendag gekom en in samewerking met die vakpersoneel is ’n duidelike struktuur in plek gestel om ’n gedissiplineerde werksruimte te vestig.”
Buiten lees- en begripsvaardighede in individuele lesse, oefen Engelbrecht en Christians ook spel- en ander taalreëls met die leerders.
Terugslae sal daar altyd wees, maar suksesverhale soos ’n gr. 8-seun wat verlede jaar gedruip het en ná hy ’n nuwe bril ontvang het weer glimlag, motiveer die leesprojekspan om voort te gaan.
Ná ’n aanvanklike huiwerigheid, meld leerders deesdae spontaan aan.
Dié twee oudonderwysers is opgewonde oor hul nuwe projekte – die StellenSPEL- spelkompetisie, StellenSTORIE, ’n kortverhaalkompetisie en StellenDIG vir versiemakers wat volgende jaar van stapel gestuur word.
Die Stellenzicht-leesprojek is op pad om een van Jamestown se suksesverhale te word.
“Ons is dankbaar vir al die skenkings, Deutsch-Südafrikanischer Förderverein für benachteiligte kinder en Proud Partners, maar ons het meer vrywilligers en borge nodig om dié projek oor die lang termyn volhoubaar te maak en sodoende meer ondersteuning aan leerders te bied.
“Dié projek wys hoe ’n gemeenskap stadig maar seker besig is om hande te vat om vele kinders van Jamestown te help om hul taalvaardigheid te verbeter,” sê Engelbrecht.