Universiteit Stellenbosch (US) se bestuur het skokgolwe deur die Afrikaanse gemeenskap gestuur met hul voorstel om voortaan Engels as primêre onderrigtaal te gebruik.
Luidens ‘n verklaring op die US se webtuiste, sal Engelse onderrig meer studente toegang tot onderrig by die instelling te bied.
“Taal moet op so ? manier gebruik word dat dit daarop gerig is om met kennis om te gaan in ? diverse samelewing en om gelykberegtigde toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle studente te verseker,” lui die verklaring.
“Aangesien Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is, sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer word om geen uitsluiting op grond van taal te verseker.
“Die Universiteit bly verbind tot die verdere ontwikkeling van Afrikaans en isiXhosa as akademiese tale.”
Die voorstel is op hierdie stadium een van vele voorstelle in ‘n besprekingsdokument wat deur die rektor se bestuurspan saamgestel is.
Vir enige voorgestelde veranderinge aan die huidige taalbeleid, sal voorstelle by ? formele vergadering van die Senaat voorgelê word voordat dit aan die Raad voorgelê word.
Adam Tas-studentevereniging beweer op hul Facebook-blad alle studentegroepe was nie by onderhandelinge oor die nuwe taalbeleid betrokke nie.
“Adam Tas veroordeel die debakel ten sterktste, en ons vra die solidariteit van al ons lede en volgelinge om die bestuur by te staan in die nuwe stryd vir Afrikaans en IsiXhosa se grondwetlike posisie.
“Ná ons bestuursvergadering more sal meer inligting volg. Ons vra lede om aktief deel te raak. Afrikaans by US is werklik vandag ‘n rugdolk toegedie, maar hierdie doringboompie, soos die digter geskrywe het, sal homself uit die stof optel.”