Erfenisdag is Dinsdag (24 September) met kleur, musiek en taal in Stellenbosch gevier.
Die Stellenbosch-museum het vandeesweek verskeie werksessies en optredes vir die dag gereël. Alles van ’n krale-werksessie tot optredes in verskeie Suid-Afrikaanse tale is aangebied.
Volgens Johann Potgieter, organiseerder van die Erfenisdag-fees, was dit wonderlik om internasionale en ook plaaslike besoekers op die dag te verwelkom.
“Daar is soveel van ons eie geskiedenis en kultuur wat eens onderdruk was. Daar is die geskiedenis dat die eerste skrif van Afrikaans in Arabies was of die geskiedenis van boeremusiek wat ’n baie diverse ontstaan gehad het, maar hierdie inligting was weggesteek. Daarom is deel van die Erfenisdag-fees om mense op te voed oor ander se kulture,” sê Potgieter.
Vanjaar se Erfenisdag-fees was die derde en Debbie Gabriëls, museum-bestuurder, sê hulle het hard gepoog om die verskillende kulture van Stellenbosch te verteenwoordig.
“Ons uiteindelike doel is om ’n fees te vestig sodat dit ’n instelling word,” sê sy.
Sang in Xhosa, Khoi en Afrikaans het Dinsdag die geleentheid gebied vir besoekers om die universele taal van musiek saam te geniet, en in die Arabies-Afrikaans-sessie het Alamien Gaidien die rol van die Moslem-geloof in die Kaap in die vorming van Afrikaans uitgelig.
Besoek die Stellenbosch-museum in Ryneveldstraat om steeds plaaslike erfenis te geniet.