Om in die strik van ’n swendelaar te trap, is een ding, maar wat as dit jou onderneming is waarmee onskuldiges geswendel word?
Dit was die lot van Loraine Louw, ’n plaaslike eiendomsagent van Le-Jean Real Estate.
Louw help al ’n hele paar jaar om eiendom in en om Stellenbosch te verkoop en verhuur. Dit was dus vir haar vreemd toe ’n kliënt haar kontak oor ’n huureiendom in Kampsbaai wat hy wou bevestig.
“Die kliënt het my geskakel en gevra om met Albe te praat. Ek verduidelik toe ek is die hoofagent van die onderneming en ken nie so iemand nie. Hy het toe verduidelik hy het ’n huis in Kampsbaai deur Le-Jean Realtors bespreek en wou die bespreking bevestig,” sê Louw.
Ná die twee ’n rukkie gesels het, het Brian Robson verduidelik hy het ’n inskrywing op sosiale media gevind vir die Kampsbaai-huis te huur vir R6 000. Robson het skermgrepe van die Facebook-plasing aan Louw gestuur. Hy het aanvanklik ’n boodskap via Facebook aan Albe Breed Engelbrecht gestuur, maar het nie spoedig ’n antwoord ontvang nie. Hy het toe Le-Jean Realtors aanlyn gesoek om ’n nommer in die hande te kry en by Louw uitgekom.
Foto’s van Louw en haar onderneming is gebruik vir ene Albe Breed Engelbrecht wat glo onder meer eiendom in die Kaapse metropool verhuur. “Ek was so geskok. Die bespreking is deur Bookings.com gedoen, maar nadat ek hulle gekontak het, kon hulle nie veel help nie.”
Robson sê hy besef nou die huurgeld moes die eerste teken gewees het dat alles nie pluis is nie. “Ek het [Engelbrecht] op Facebook gekontak nadat ek ’n TikTok van die huis gesien het. Dit was so ’n mooi eiendom vir ’n goeie prys, wat verdag is, en ek was haastig om die plek te bespreek. Gelukkig het ek niks betaal nie,” sê hy.
Eikestadnuus het Engelbrecht se nommer geskakel, maar die persoon wat geantwoord het, beweer hulle weet niks van Le-Jean Realtors of Louw nie. Op die vraag of hulle bewus is dat Louw se foto’s vir hul advertensie gebruik is, het die persoon bloot die oproep beëindig.
Louw het die Stellenbosch-polisiekantoor genader vir hulp en die plaaslike polisie het haar aangeraai om moontlike kliënte teen die swendelary te waarsku.