Akademiese programme in MIV/vigsbestuur meer relevant as ooit

Altesaam 1,5 miljoen nuwe MIV-infeksies is wêreldwyd in 2021 aangeteken. Dit is ’n miljoen infeksies, of 300%, meer as die 2020-doelwit van 500 000. Ook het 680 000 mense in 2020 weens vigsverwante oorsake gesterf, wat ook die doelwit van minder as 500 000 oorskry het.

Dr. Munya Saruchera, senior lektor en waarnemende direkteur van die Afrika-sentrum vir MIV/vigsbestuur. Foto:

Credit: Nike Folscher

Sedert Wêreldvigsdag die eerste keer op 1 Desember 1988 gedenk is, het die stand van die pandemie aansienlik verander. Met die wydverspreide opvoedingsinisiatiewe en doeltreffende behandeling, kan mense met MIV en vigs nou lang, produktiewe lewens lei en het nuwe infeksies toenemend verminder.

’n Mens sou eenvoudig die sukses kon vier en besluit om tyd en hulpbronne eerder aan te wend vir die talle ander uitdagings wat die vasteland in die gesig staar. ’n Groep mense by die Universiteit Stellenbosch (US) verskil – met rede – van hierdie mening.

Altesaam 1,5 miljoen nuwe MIV-infeksies is in 2021 wêreldwyd aangeteken. Dit is ’n miljoen infeksies, of 300%, meer as die 2020-doelwit van 500 000. Daarbenewens het 680 000 mense in 2020 weens vigsverwante oorsake gesterf, wat ook die doelwit van minder as 500 000 sterftes oorskry het.

Hierdie syfers lei tot vrae oor die ware vlak van bewustheid (waarom kom so baie nuwe infeksies voor?) en ook toegang tot medikasie of selfs kennis van ’n mens se eie MIV-status (aangesien sterftes nie voldoende afneem nie).

Die span by die Afrika-sentrum vir MIV/vigsbestuur by die Universiteit Stellenbosch is baie bewus van hierdie syfers en waarom ons bekommerd moet wees. “Die stigma, diskriminasie, geslagsongelykhede en die gebrek aan waardigheid en menslikheid, wat MIV en vigs tot gevolg het of daarmee geassosieer word, word nie deur gewone mediese behandeling genees nie. Daarom is dit steeds nodig om aandag aan MIV en vigs te gee,” sê dr. Munya Saruchera, ’n senior lektor en waarnemende direkteur van die sentrum.

Die pragtige en moderne gebou wat die Afrika-sentrum vir MIV/vigsbestuur in Stellenbosch huisves.

As ’n mens na die fyner nuanses van die statistieke kyk, word Saruchera se besorgdheid duideliker. In Suid-Afrika is 64% van die 7,5 miljoen mense wat tans MIV en vigs het, vroue. In die groter sub-Sahara-Afrika vorm vroue en meisies 63% van alle nuwe MIV-infeksies in 2021.

In die lig van die feit dat mans oor alle gebiede wêreldwyd minder geneig is om MIV-dienste (toetse en behandeling) te gebruik, skep dit ’n potensieel bose kringloop. Die uitdaging is dat dit wyer strek as geslagsgebaseerde geweld.

“Die siklus is gekoppel aan baie faktore, waaronder kwessies soos mag, patriargie, armoede, ’n tekort aan sosio-ekonomiese regte en swak toegang tot hulpbronne,” verduidelik Saruchera. “Vroue is sorgwekkend kwesbaar en word uitgebuit, en sommige vroue neem hul toevlug tot onbeskermde transaksionele sekswerk vir oorlewing.” Dit sluit sterk aan by die globale tema van vanjaar se Wêreldvigsdag, “Gelykmaking”, wat die verbetering van die oneweredige voorkoms van MIV as prioriteit stel.

Covid-19 het natuurlik ’n groot invloed gehad. Die pandemie het die wêreld vir langer as twee jaar oorskadu en veroorsaak dat baie ander globale uitdagings op die agtergrond geskuif is. Kan dieselfde van MIV en vigs gesê word? Saruchera reken so: “Die bekendstelling van MIV/vigs-programme is weens Covid-19 gestaak, hulpbronne en leierskap is verskuif en toegang tot antiretrovirale terapie is ook negatief beïnvloed.”

’n Toename in werkloosheid, ’n tekort aan voedsel vir mense op behandeling en uitdagings rakende geestesgesondheid vererger die situasie.

Om hierdie ongelykhede reg te stel, bied die Afrika-sentrum drie nagraadse akademiese programme in MIV/vigsbestuur in die werksomgewing aan. Die programme bied studente ’n multidissiplinêre lens en insigte in bestuurswetenskap. Vorige studente sluit in menslikehulpbronbestuurders, predikers, onderwysers, verpleegkundiges, dokters en direkteure.

“Studente verwerf ’n verskeidenheid vaardighede, insluitend vaardighede in kritiese ontleding en evaluering, en verkry ’n dieper insig in kwessies soos die regsaspekte van die indiensneming van mense met MIV, geslag en seksualiteit, die sosio-ekonomiese impak van MIV/vigs, migrasie en die skakel met armoede en MIV/vigs, beleidmaking en implementering, programontwerp en evaluering asook maatskaplike verantwoordelikheid,” verduidelik Saruchera.

Hy glo indien MIV/vigs nie doeltreffend bestuur word nie, sal die stigma daarvan steeds mense se lewe vernietig, infeksies sal aanhou styg omdat mense bang is om hulle vir MIV te laat toets, behandeling sal nie nagekom word nie, en dit sal lei tot onnodige verlies aan lewens en produktiwiteit. Wat egter belangrik is om te weet, is dat die vaardighede wat onderrig word, na enige konteks oorgedra kan word waar mense en organisasies bestuur word vir beter uitkomste tydens uitdagings, soos in die geval van Covid-19.

Om plaaslike bewustheid te kweek, het die Afrika-sentrum organisasies en skole in die Stellenboschdistrik genooi na ’n Wêreldvigsdag-byeenkoms met ’n spesiale fokus op MIV/vigs-stigma, geslagsgebaseerde geweld en kindermishandeling. Saruchera en ander leiers van die Universiteit Stellenbosch sal openbare MIV-toetse doen om toetsing as lewenstyl aan te moedig en ’n einde te maak aan die stigma.

Toetsing sal ook beskikbaar wees vir ander gaste, sowel as toetse vir TB, diabetes en middelmisbruik.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.