Met die 2024-skooljaar in volle gang doen die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) sy deel om die welstand en waardigheid van meisies oor die provinsie heen deur sy Sanitêrewaardigheidsprojek te verseker.
DSD het in vennootskap met die provinsiale onderwysdepartement sedert die begin van die projek in 2019-’20 meer as 3,432 miljoen pakke sanitêre doekies aan leerders uitgedeel.
Die provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, se personeel het Dorothea Spesiale Skool in Cloetesville verlede week besoek om sanitêrewaardigheidspakke af te lewer.
“Die skenking sal gewis ’n verskil maak in ons meisies se persoonlike higiëne aangesien die meeste van ons leerders afhanklik is van Sassa-toelaes en ouers sukkel om toiletware vir hulle te bekostig. Ek probeer ook om elke maand vir die meisies ’n pakkie te gee, maar ons is gelukkig om skenkers te hê wat ons ondersteun,” het Linda Carelse, ’n verpleegster by die skool, gesê.
Fernandez het bygevoeg: “Meisies uit arm gemeenskappe word reeds deur geweldige maatskaplike en ekonomiese uitdagings in die gesig gestaar, en diegene met spesiale behoeftes is in ’n nóg kwesbaarder posisie. Ons kan nie toelaat dat ’n natuurlike liggaamsfunksie soos menstruasie nóg ’n hindernis vir hul leer word nie. Ons kan almal ons deel doen. Ek doen ’n beroep op burgers wat kan en die private sektor om hul rol te vervul in die bystaan van skole in benadeelde gebiede om die speelveld vir alle meisies gelyk te maak.”
Die departement beoog om ’n verdere 8 734 bokse of 419 323 pakkies gedurende die laaste kwartaal van die huidige boek- jaar te versprei.
Sedert 2020-’21 het DSD die aantal begunstigdes van 94 817 leerders by 220 skole verhoog tot 130 396 leerders by 365 skole vir 2023-’24. Dit sluit in plaasskole, spesialebehoefteskole en DSD-gefinansierde kinder- en jeugsorgsentrums.