Warren de Kock, vleuel van Van der Stel-Evergreens, in aksie teen Hamediehs. De Kock het Saterdag twee drieë teen Sir Lowrians in ’n drieëfees gedruk.Foto: Peter Abrahams/Son


Sir Lowrians en Masiphumelele het Saterdag (3 September) die kaarte in die Promosieliga van die WP-rugbyunie deurmekaar gekrap deur met die voorste aanspraakmakers om as top-9-kampioen gekroon te word, Van der Stel-Evergreens (VDE) en Hamediehs, af te reken.

VDE het op die Bergzicht-sportterrein 43-42 in die wipplank-wedstryd verloor, terwyl Hamediehs 29-25 in Noordhoek die onderspit gedelf het.

Alle oë is egter hierdie Saterdag (10 September) gerig op die derby tussen Blakes en VDE op laasgenoemde se tuisveld, en dit was ook nie ’n verrassing om Blakes se spelers en bestuurspan by die wedstryd tussen VDE en Sir Lowrians te sien nie. Blakes het kom kyk waar hy VDE moet troef en dat dit ’n stryd tot die einde gaan wees, is gewis. Blakes is ook een van die aanspraakmakers op die top-9-titel.

Sir Lowrians het Saterdag gewys dat jy hom nie kan afskryf as hy agter loop nie, want die span het verlede week ook byna Hamediehs se doppie geklink en ’n blaps in die doodsnikke het Hamediehs 29-23 gewen.

VDE en Sir Lowrians het albei ’n strafdrie gekry vir ongedissiplineerde spel op kritieke tye in die wedstryd. Sir Lowrians het strafskoppe in punte omskep om die telbord te laat aanrol, iets wat VDE nie gedoen het nie. VDE het verkies om met sy swaarder pak sy teenstanders oor die doellyn te skrum, maar swak hanteerwerk het hom by drie geleenthede punte gekos, met balle wat voor die doellyn verloor is.

Die drieë wat deur elke span gedruk is, was uit die boeke uit en die toeskouers wat die wedstryd bygewoon het, kan nie kla dat hulle nie waarde vir hul geld gekry het nie. Die vier strafskoppe van Sir Lowrians het die span in die wedstryd gehou as VDE die voortou geneem het. Met die telling op 42-31 in VDE se guns en vier minute speeltyd oor het VDE gedink die wedstryd is in die sakkie toegeknoop. Twee vinnige drieë deur Sir Lowrians het in die tyd die sege verseker en is VDE op sy tuisveld met een punt geklop.

Warren de Kock (vleuel) het twee van VDE se drieë gedruk, en die ander driedrukkers was Elrico Februarie (senter), Godfrey Thomas (agtsteman) en Dimitri Adonis (flank). Leroy Ruiters (losskakel) het almal verdoel. Februarie het ook ’n geelkaart gekry en in sy afwesigheid op die veld het Sir Lowrians gaan druk om die telling 28-elk te maak.

VDE moet sy oorblywende twee wedstryde met ’n bonuspunt wen om onder die top-4-spanne te eindig, want wanneer die laaste wedstryde Saterdag 1 Oktober beslis word, het VDE ’n loslootjie.

Die uitslae van Sir Lowrians en Masiphumelele die afgelope naweek is weer eens ’n bewys dat geen span in die Promosieliga gunsies van ander spanne kan verwag nie, want almal wil uit die “begrafnisliga” – Noordelike-, Suidelike- en Stadsliga – kom. Jy sal jou kant op die veld moet bring en elke moontlike geleentheid om aan te lê pale toe ge­bruik.

In die ander wedstryde was Violets op die oorlogspad en het Atlantis met 40-0 huis toe gestuur. Lagunya het in Elsiesrivier gewys dat hy Noordelikes se meerdere is deur 32-22 te wen.

. Saterdag 10 September se wedstrydbepalings: VDE vs. Blakes (Stellenbosch); Hamediehs vs. Violets (Athlone); Noordelikes vs. Atlantis (Elsiesrivier); Lagunya vs. Masiphumelele (Nyanga); en Sir Lowrians het ’n loslootjie.

You need to be Logged In to leave a comment.