Alle oë is Saterdag gerig op die kragmeting tussen Blakes en Sir Lowrians in die Promosieliga wanneer hulle in hul laaste ontmoeting vanjaar op Cloetesville gaan kragte meet.
Albei hou hul lot in hul eie hande om te bepaal waar hulle in 2023 hul rugby gaan speel en albei is twee van drie spanne wat sake Saterdag moet uitspook om te bepaal wie in die uitspeelwedstryd op Saterdag 8 Oktober teen Masiphumelele moet speel.
Net een van die drie – Blakes, Sir Lowrians en Violets – sal die vierde span word vir die kragmeting teen Masiphumelele en die wenner van die wedstryd kwalifiseer om saam met Hamediehs en Van der Stel-Evergreens in 2023 in Superliga C te speel.
Die verloorders is dan volgende jaar weer in aksie in óf die Stadsliga, Noordelike liga óf Suidelike liga te speel.
Blakes, Violets en Sir Lowrians het almal 19 punte op die punteleer en in die stryd op Cloetesville kan daar net een wenner wees. Die verloorder sal volgende jaar weer in die sones, ook bekend as die “begrafnisligas”, moet meeding.
Sir Lowrians het juis met vier minute speeltyd oor Blakes se buurman, Van der Stel-Evergreens (VDE), met 43-42 op Bergzicht geklop en was baie windmakerig agterna en het gesê Blakes is die volgende Stellenbosse span wat ook teen hulle die knie sal moet buig.
Daardie kragmeting is iets van die verlede en indien Sir Lowrians nou nog roem op daardie oorwinning en Blakes op sy tuisveld onderskat, kan hulle druipstert huis toe keer.
Om Blakes in Cloetesville te klop, is glad nie so maklik nie en duur lesse is deur Blakes geleer in hul laaste kragmeting teen Violets.
Dis vir Blakes ’n stryd van oorlewing en hulle sal alles Saterdag in die stryd werp om Sir Lowrians se tjank af te trap en vir die uitspeelwedstryd te kwalifiseer. Die uitslag van die wedstryd en die wedstryd tussen Violets en Lagunya sal fyn dopgehou moet word, want dit gaan eintlik neerkom op die punteverskil tussen punte vir en punte teen, wat sal bepaal wie is Masiphumelele se teenstander die volgende Saterdag in die uitspeelwedstryd.
Violets pak Lagunya op sy tuisveld, om ook aanspraak te maak om teen Masiphumelele, wat tans op 24 punte staan, uit te speel. Lagunya het in sy laaste drie wedstryde met minder as 7 punte verloor en kan dalk verras deur die tuisspan te klop. Dit sal egter ’n bomenslike poging van die span van Nyanga kos om Violets in Lansdowne te klop.
Hamediehs, wat besoek ontvang van Noordelikes van Elsiesrivier, het reeds saam met VDE vir Superliga C in 2023 gekwalifiseer, maar sal Saterdag as die wenner van die Promosieliga gekroon word, hetsy die wedstryd met of sonder ’n bonuspunt gewen word. VDE staan reeds op 32 punte en het ’n loslootjie, terwyl Hamediehs op 30 staan en ’n wen sal goed genoeg wees om die titel te verwerf.
Noordelikes het die onbegonne taak om Hamediehs in Athlone te klop, en het in die kompetisie nog geen wedstryd gewen nie. Noordelikes sal in 2023 weer in die Stadsliga moet meeding.
Masiphumelele reis na Atlantis vir sy laaste wedstryd en sal nie met leë hande huis toe wil keer nie. Masiphumelele het vriend en vyand verras met sy derde plek op die punteleer deur by die agterdeur in te glip.
Op Saterdag 24 September is die wenners van Superliga A, B en C ook op Stellenbosch gekroon. Valsbaai is die Superliga A-kampioen nadat hy Durbell met 25-15 geklop het, Helderberg het St Georges met 41-22 geklop en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) het Strand 26-19 geklop.Wedstrydbepalings vir Saterdag 1 Oktober:
Blakes vs Sir Lowrians
Hamediehs vs Noordelikes
Violets vs Lagunya
Atlantis vs Masiphumelele
Van der Stel-Evergreens het ’n loslootjie.