Die wedstryd-der-wedstryde van Superliga B word Saterdag (6 Julie) tussen Van der Stel-Evergreens (VDE) en Hamediehs op die Bergzicht-sportterrein beslis, met Hamediehs wat tot dusver die oorhand oor VDE het.
Wat dinge nog interessanter kan maak, is dat Hamediehs die afgelope naweek met 24-23 streepsuiker teen Kraaifontein gekry het, terwyl VDE met Collegians met 29-22 in Athlone afgereken het.
Soos algemeen bekend is, loop Kraaifontein, VDE en Hamediehs se paadjie die afgelope drie jaar saam. Al drie klubs het hul weg uit die sones oopgespeel om nou met die grootkanonne in Superliga B saam te gesels. Nie al die gevestigde spanne van die afgelope drie jaar in Superliga B is gelukkig oor die drie “sone-spanne” wat kaarte week ná week deurmekaarkrap nie. Gevestigde spanne hoop dat die “sone-spanne” mekaar die loef sal afsteek om die gevestigde klubs ’n beter kans te gee.
Vir die gevestigde klubs is dit gewis ’n bitter pil om te sluk dat die “sone-spanne” hul gewig in die liga kom rondgooi nadat gevestigte spanne sukkel om uit Superliga B te kom en hulle elke naweek verras word.
Die rugbygemeenskap is ook Saterdag in rou gedompel nadat Naasief Abrahams, ’n speler van Vineyards in Paarl, in die wedstryd tussen sy span en Hamlets in Mamre gesterf het.
Dié wedstryd is gestaak en sal later beslis word. Abrahams is ingevolge die Moslem-geloof begrawe.
Franschhoek het ook Saterdag (29 Junie) met 31-21 met All Saints afgereken en ontvang hierdie Saterdag besoek van Collegians. Kylemore was nie die afgelope naweek in aksie nie en speel Saterdag tuis teen Belhar.
In Superliga C het Pniël Villagers met 42-12 teen Macassar vasgeval en kom Saterdag teen Young Peoples in Paarl te staan.
In die Noordelike liga is Stellenbosch-Coronations in Raithby deur die tuisspan met 27-19 geklop. Excelsior het in Delft ’n afgedankte loesing van 50-10 ontvang.
Die Noordelike liga se wedstrydverpligtinge is nou afgehandel. Nie een van die drie Stellenbosse spanne het vir die topnege gekwalifiseer nie. Die topnege bestaan uit die drie spanne wat van een tot drie eindig in die Noordelike, Suidelike en Stadsliga. Die spanne wat gekwalifiseer het, is Delft, Albions, Sir Lowrians, Young Wesleys, Caledonian Roses, Silvertree, Blue Stars, Watsonia en Violets.
In die Suidelike liga was Blue Stars van Klapmuts ook te goed vir Peninsula en het met 59-5 oorheers.
Die span van Klapmuts reis Saterdag na Kaapstad vir ’n wedstryd teen Young Stars.