Ná meer as vier maande tuis het die Hoër Meisieskool Bloemhof se graad 8- en 9-leerders ook teruggekeer skool toe.
Die graad 8’s is Maandag 18 Augustus terug verwelkom terwyl die graad 9’s Donderdag 20 Augustus teruggekeer het.
Wat sê Bloemhof se graad 8’s oor die terugkeer skool toe?
“Ek was meer opgewonde as gestres om terug te wees,” sê Lana Oberholzer en voeg by sy kon nie meer wag om al haar maats weer te sien nie.
Joscelynn van Wyk beaam dit: “Ek was vreeslik opgewonde om my vriende en onderwysers te sien, maar ook op dieselfde tyd senuweeagtig omdat ek nie geweet het wat om te verwag nie.”
Om leerders op die nuwe wyse van oggendkontrole en sifting in te lig, is ’n deeglike gids saamgestel en aan hulle en hul ouers beskikbaar gestel.
Marizaan Nortjé het die eerste oggend se sifting as “interessant” beleef, “want ons moet eers in rye wag om gesif te word en toe kon ons eers klas toe gaan.” Sy sê egter sy is baie bly om weer terug te wees.
“Die oggendsifting was baie vinniger en eenvoudiger as wat ek verwag het,” sê Joscelynn. “Alles is goed beplan en beheer en, al is dit nie lekker om die heeltyd ’n masker te moet dra nie, is dit lekker om weer my Bloemhof-baadjie te kan aantrek en tyd saam met my Bloemhof-sussies deur te bring.”
Chrystan Wagenstroom was nie bekommerd oor terugkom nie.
“Ek was selfversekerd en ek het geweet die skool sal alles in sy vermoë doen om my veilig te hou. Die siftingsproses was baie maklik en vinnig en ek voel baie positief daaroor,” sê sy. “Ek is bly om weer by die skool te wees en my opvoeding te bevorder. Die skool het die proses baie maklik gemaak.”
Om seker te maak dat die nodige veiligheidsprotokol gevolg word, is al Bloemhof se leerders nie gelyktydig by die skool nie: Graad 8’s en 9’s is twee keer per week fisiek by die skool terwyl graad 10’s en 11’s drie keer per week in die klas is.
Die graad 12’s het hierdie week met hul September-eksamen begin.