Inwoners van die Stellenbosch-munisipaliteit is net soos die munisipaliteit self stomgeslaan oor die Openbare Beskermer se bevindings dat twee senior amptenare se aanstellings glo onreëlmatig was.
In ’n samelewing waar ons daagliks vir gelykheid en geregtigheid veg, is dit kommerwekkend om te sien dat ’n munisipaliteit van Stellenbosch se statuur so onder die vergrootglas geplaas word.
Nie net skep dit ’n slegte beeld van die administrasie nie, maar dit verminder die impak van al die goeie werk wat die munisipaliteit doen.
Dit is baie ernstige aantygings teen ’n munisipaliteit wat hom daarin roem dat hy ’n instelling is wat die wet volg. Die munisipaliteit bestudeer nou die verslag om dit onder hersiening te neem.
Intussen het Stellenbosch een van die eerste munisipaliteite geword wat sonpanele op munisipale eiendom aanbring om die munisipaliteit van beurtkrag te verlos.
Ons hoop van harte dat die proses van hersiening regverdig sal wees – veral vir kandidate wat ook vir die poste aansoek kon doen – en spoedig afgehandel sal word sodat ons oor meer goeie nuus soos die sonpanele wat vandeesweek aangebring is, kan verslag doen.