Verskeie stellings oor waterverbruik in 26 Januarie se Eikestadnuus mag dalk waar wees, maar hulle mis myns insiens die punt. Met wêreldwye klimaatverandering word daar toenemende waterskaarsheid vir die Wes-Kaap voorspel, nie net vir die volgende paar maande nie, maar vir ten minste die volgende vyftig jaar. Natuurlik behoort onnodige watervermorsing gestop word, nie net van munisipale drinkwater nie, maar van alle bronne. Die munisipa-liteit self, die universiteit, skole, gholfba-ne, sportterreine en groot maatskappye verkwis rivier- en boorgatwater sonder inagneming dat dié bronne ook uitgeput kan raak. Ons sien daagliks (nie net saans nie!) op die Rooiplein, die R44, op gholfbane en sportvelde hoe water ge-mors word. Al is dit wettig is dit oneties.
Watter voorbeeld stel die munisipaliteit, die universiteit, die skole, die ryk buurte?
Dit is ’n flou verskoning om te verwys na waterkwotas en -regte uit ’n ander era terwyl grond- en rivierwater die enigste oorblywende waterbronne mag raak soos die damme oor dekades opdroog. Nie net gebruikers van munisipale drinkwater nie, maar alle voordeelhouers van rivier-, lei- en boorgatwater moet hul kant bring.
Die munisipaliteit behoort dringend ooreenkomstige wetsverandering en -toepassing in te stel om te voorkom dat daar ’n resies ontstaan om dié bronne teen dubbel die pas uit te buit.