Alternatiewe Afrikaans se beste ‘band’ is van Stellies

Dierbaar na die Maan van Stellenbosch is Saterdag 12 Oktober as die wenner van die Taalgenoot Ruk en Rym-kompetisie aangewys.


Dierbaar na die Maan van Stellenbosch is Saterdag 12 Oktober as die wenner van die Taalgenoot Ruk en Rym-kompetisie aangewys.

Die kompetisie was ’n alternatiewe smeltkroes vol vonkende talent. Die eindronde van dié kompetisie vir alternatiewe klankskeppers wat musiek met Afrikaanse lirieke maak, volg ná twee halfeindrondes, insluitend een by die Daisy Jones-kroeg as deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Die beoordelaarspaneel vir al drie geleenthede was die sangeres en aktrise Augusta Zietsman, Jaco van der Merwe (Bittereinder/Walkie Talkie) en Paul Riekert (Battery 9). Henco Harmse, Karen Zoid, Jolyn Phillips en Zaan Sonnekus was deur die loop van die kompetisie gasbeoordelaars.

Gedurende die halfeindrondes het 20 groepe en kunstenaars meegeding om ’n kans om as 2024 se Ruk en Rym-wenners aangewys te word, maar toeskouers ook diep onder die indruk gebring van die opwindende onderstrominge wat op die alternatiewe toneel aan die rondspoel is.

Dierbaar na die Maan is as die algehele wenners aangewys, met Die FakboiZ van Bellville as naaswenners, Just Mia van Pretoria in derde plek en Die Bom en die Ster van Alabama en Klerksdorp in vierde plek.

Janke Mostert, Afrikaans-onderwyser en die voorsanger van die wengroep, Dierbaar na die Maan, sê hulle was aangenaam verras om te hoor hulle stap met die louere weg.

“Ons was regtig verbaas, want ons is nog net vir twee maande amptelik ’n band en die Ruk en Rym-eindronde was ons agtste gig ooit. Maar nie net dít nie, ons was verbaas, want elke keer as daar nog ’n finalis optree, dan dink ons, hiérdie persoon gaan wen. Ons was oorstelp deur al die talent wat rondom ons was,” het Mostert aangevoer.

“Ruk en Rym is vir ons ’n fantastiese geleentheid. Ons waardeer al die moeite wat die organiseerders gedoen het en dis vir ons verblydend dat mense dit wil doen vir alternatiewe [musiek in] Afrikaans. Ons het beslis ’n paar lewenslange vriende langs die pad gemaak. Ons sien uit na die toekoms van alternatiewe musiek in Afrikaans en dit is regtigwaar vir ons ’n reuse-eer om hierdie jaar van die kompetisie te kon deel wees.”

Die kompetisie is vanjaar vir die tweede keer aangebied nadat hierdie geesteskind van die ontslape Taalgenoot-redakteur, Johan Jack Smith, in 2023 vir die eerste keer ’n platform eksklusief aan alternatiewe musikante gebied het.

Die wenners stap met ’n verskeidenheid pryse weg, wat wissel van geskenkbewyse en kontantpryse tot die geleentheid om snitte op te neem en musiekvideo’s te maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.