Amper tyd vir kolwyntjiedag vir kinders met kanker

Die lang verwagte Nasionale Cupcake Day 4 Kids with Cancer sal Saterdag 28 September by 17 winkelsentrums reg oor die Wes-Kaap gehou word.


Die lang verwagte Nasionale Cupcake Day 4 Kids with Cancer sal Saterdag 28 September by 17 winkelsentrums reg oor die Wes-Kaap gehou word.

Die geleentheid word sedert 2012 gehou om geld in te samel vir Cupcakes of Hope, ’n organisasie sonder winsbejag wat hulp en ondersteuning aan die gesinne van kinders by wie kanker gediagnoseer is, bied.

“Ons het meer as 10 000 pasiënte oor die afgelope 10 jaar gehelp,” sê Sandy Cipriano, die stigter van Cupcakes of Hope. “Ek en my man het begin om geld in te samel vir kinders met kanker toe ’n vriendin se driejarige haar kankerstryd verloor het. Ons het in 2012 die nie-winsgewende Cupcakes of Hope geregistreer. Sedertdien is meer as R10 miljoen deur die gemeenskapsgedrewe National Cupcake Days ingesamel om elke maand geld aan honderde jong kankerpasiënte en hul gesinne te voorsien. Dit sluit in die dekking van hul mediese rekeninge en ander noodsaaklike behoeftes – van doeke tot voeding en alles tussenin. Die jongste pasiënt wat gehelp is, was net vier maande oud toe hy gediagnoseer is.”

Onkoloë, hospitale, maatskaplike werkers en hospiese kontak almal Cupcakes of Hope met versoeke om te help. Hulle help ook met versoeke van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se Tough Living with Cancer-program (TLC) wat op die ondersteuning van die ouers en versorgers van jong kankerpasiënte fokus.

“Die vennootskap is ’n voortdurende bron van ondersteuning vir ons, wat help met verskeie sorg- en ondersteuningspakkette vir ons kleintjies en ouers,” sê Anina Meiring, Kansa se diensbestuurder vir kinderkanker.

Die Cupcake Angels (vrywillige bakkers) is die grondslag van alles wat deur die organisasie gedoen word. Die bakkers is reg oor die land geleë; hulle bak en verkoop hul kolwyntjies en skenk die geld aan Cupcakes of Hope.

Die winkelsentrumkoördineerder Annelize Orton is ook die nuwe bemarkingsbestuurder by die Mountain Mill-winkelsentrum in Worcester. “In die verlede, wanneer Cupcakes of Hope geleenthede by Mountain Mill gehou het, het ek ’n punt daarvan gemaak om kolwyntjies te koop en my ondersteuning te wys,” sê Orton.

“Dit het selfs meer persoonlik geword toe kanker by my neef se kind, Teagan, gediagnoseer is. Al het ek Teagan nooit ontmoet nie, was dit hartverskeurend om sy reis te volg. Om ’n kind teen kanker te sien baklei en die hulpeloosheid van sy gesin te voel, het my diep geraak. Toe Teagan sy engelvlerkies gekry het, het my hart in ’n miljoen stukkies gebreek. Dit was ’n verwoestende oomblik wat my begeerte versterk het om op enige manier te help wat ek kan.”

Die aantal pasiënte wat deur die organisasie ondersteun word, het sedert 2020 verviervoudig. Tussen Januarie en Julie vanjaar is 1 608 finansiële versoeke ontvang, waarvan 334 vir pasiënte in die Wes-Kaap was. Cupcakes of Hope ontvang tans gemiddeld ongeveer 220 versoeke vir finansiële hulp elke maand.

Catherine Rall, die Zevenwacht-winkelsentrum se koördineerder, het die organisasie in 2018 die eerste keer ondersteun toe sy haar eerste bondel kolwyntjies vir National Cupcake Day gebak en geskenk het. “Kanker is in 2009 by my seuntjie as eenjarige gediagnoseer,” vertel Rall.

“As gevolg van hierdie ervaring en wat ons as ouers deurgemaak het, wou ek ’n saak ondersteun wat kinders met kanker op ’n positiewe manier help. Ek het in 2023 aangesluit om ’n Cupcakes of Hope-handelsmerkambassadeur te wees, en vanjaar het ek besluit om my benadering te verbeter en ’n winkelsentrumkoördineerder by die Zevenwacht-winkelsentrum te word. Ek kan nie wag vir National Cupcake Day van 2024 nie.”

Cipriano sê Cupcakes of Hope is geseën met “ongelooflike” vrywilligers. “Duisende bakkers en vrywilligers gee hul tyd, die bestanddele, liefde en passie die hele jaar; elke jaar. Daar is eerlikwaar niks soeter vir my as om die opwinding en vreugde te sien wat almal op ons grootste dag van die jaar – National Cupcake Day – wys nie. Uit die terugvoer wat ons van die publiek kry, geniet hulle dit ook,” vertel sy.. Registrasie om te bak en aan National Cupcake Days 4 Kids with Cancer deel te neem, is nou oop. Mense kan ook deelneem deur kolwyntjies op die dag by enige van die deelnemende winkelsentrums te koop – 3 Arts Village (Plumstead); Blue Route-winkelsentrum (Bredasdorp); Canal Walk-winkelsentrum; Cape Gate-winkelsentrum; Howard Sentrum (Pinelands); Liberty Promenade-winkelsentrum; Longbeach-winkelsentrum (Noordhoek); Mountain Mill; N1 City-winkelsentrum; Paarl-winkelsentrum; Somerset Mall; Table Bay-winkelsentrum; Tygervallei-winkelsentrum; Weskus-winkelsentrum; Whale Coast Hermanus en Zevenwacht-winkelsentrum.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.