Amy Hammers is vanjaar as haar klub Glen Eagles se Jeugspeler van die Jaar aangewys en droom daarvan om eendag ’n beroepsokkerspeler te word. Foto:


’n Veertien-jarige sokkerspeler van Cloetesville is uitgenooi om volgende jaar aan die Dallas International Girls’ Cup in die VSA deel te neem – ’n geleentheid wat die koers van haar sokkerloopbaan kan verander.

Amy Hammers speel al sedert sy nege jaar oud is sokker. “Sy was maar altyd baie aktief, en het met die kinders in die straat gespeel – al was sy al meisie tussen die seuns,” vertel haar ma, Porcia.

“Toe Amy ses jaar oud was het ons agtergekom dat sy baie aktief is. Sy het boom geklim, altyd rondgehardloop en was baie geïnteresseerd in enige soort sport met ’n bal. Sy was eers by Pieter Langeveldt Primêr, waar sy aangesluit het by hul netbalspan.

Haar tyd by Pieter Langeveldt Primêr is egter kortgeknip omdat sy meer betrokke wou wees by sport en ons het haar later na Idasvallei Primêr oorgeplaas waar sy verskeie medaljes verwerf het vir haar uitnemendheid in sport in haar tyd by dié skool.

“In haar gr. 6-jaar het Amy se talent in sport weer uitgestaan ??en sy is ’n beurs by die skool Bridge House in Franschhoek aangebied vir gr. 7. Sy neem nou deel aan verskeie sportsoorte soos hokkie, sokker, netbal en waterpolo en sien nou ook daarna uit om deel te wees van die skool se meisies-krieketspan,” vertel Porcia.

Vanjaar het Amy uiteindelik die geleentheid gekry om vir twee weke saam met ’n span van Franschhoek, Kusassa Stars, na Swede te reis en aan ’n o.14-meisie-sokkertoernooi deel te neem.

Tydens haar besoek aan Swede het sy daarin geslaag om nog ’n toekenning vir haar uitnemendheid in meisie-sokker te wen. Ná haar terugkeer uit Swede het Amy nog ’n geleentheid gekry om via Ikapa United in die Dallas-toernooi in die VSA te speel.

Amy is ook vanjaar as haar klub Glen Eagles FC se jeugspeler van die jaar aangewys en droom daarvan om eendag ’n beroepsokkerspeler te word. Haar sokkerhelde is Mohammed Salah en Trent Alexander Arnolds.

“Dit sal vir haar die wêreld beteken as sy na die Dallas-toernooi kan gaan, maar dit kos ons ongelukkig te veel geld,” verduidelik Porcia.

“Ons het sowat R40 000 nodig om haar daar te kry. Ons verkoop tans worsrolletjies en tjips en reël karaokes om haar daar te kry.”

. Enigeen wat Amy wil help om haar droom te verwesenlik kan Nolan Swanepoel by 083 702 7730 of Porcia by 084 428 6883 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.