Stellenbosch is die tuiste van Afrika se nuwe paalspringkampioen vir vroue o.18 nadat Ansumé de Beer van die Hoërskool Stellenbosch dié titel by die Konfederasie van Afrika Atletiek (KAA)-kampioenskap in Zambië verower het. Sy het ’n persoonlike beste hoogte van 3.80 m gespring.
Die 15-jarige Stellenbosser sê dis ’n ongelooflike gevoel, maar terselfdertyd stresvol.
“Ek het nog nooit in my lewe so erg vir iets gestres nie. Die druk is baie en die verwagtinge is hoog, maar ek onthou maar net altyd hoekom ek dit doen en wat ek wil bereik. Dan motiveer dit my om harder te werk, al is ek onder baie druk,” sê sy.
De Beer sê sy het baie hard aan haar tegniek gewerk en na die basiese beginsels teruggegaan, selfs ná talle beserings.
“Ek het al ’n paar keer beserings gekry. Ek dink verlede jaar was die ergste. Ek het by ’n paalspringoefening my ligamente in my voet geskeur en was seker vir ses weke uit op krukke. Ek besef as jy hard werk, is ’n mens in staat tot enigiets en dat jy nooit aan jouself moet twyfel nie.”
Sy vertel dat die paalspring-gogga haar gebyt het toe sy in gr. 8 was.
“Ek dink my belangstelling het gekom omdat ek altyd by atletiekbyeenkomste gesien het hoe hulle paalspring en dit het altyd vir my so lekker gelyk.”
De Beer skryf haar sukses toe aan haar ondersteuningsnetwerk.
“Ek dink een van my grootste inspirasies is iemand baie na aan my hart wat saam met my oefen, Mire Reinstof. Sy het die laaste jaar soos my ouer sussie geraak en sy ondersteun my nog al die pad. Mire is so ’n groot inspirasie vir my, en ek dink een van die grootste redes is hoe nederig en plat op die aarde sy bly ná als wat sy al bereik het.
“My mentors en die span by Endurocad en die passievolle afrigters is ook belangrik. My afrigter JP van As is ’n instrumentele deel van my sukses. En ek love my skool in Stellenbosch! En is dankbaar dat ek hier aan my drome kan werk.”
Sy sê sy sal graag eendag aan die Olimpiese Spele wil deelneem.
“Ek weet dis nog baie werk tot dan en ek het nog ’n lang pad om te gaan, maar ek is meer as bereid om daai pad te stap.”
Haar raad aan ander jong atlete is om nooit hul drome prys te gee nie.
“Maak nie saak hoe moeilik dit raak of hoe groot die druk word nie, moet nooit opgee op jou drome nie. As jou drome jou nie bang maak nie, dan is jou drome nie groot genoeg nie.”
En vir dié wat betrokke wil raak by paalspring, sê sy die beursprogram waarin sy by Endurocad is, bied geleenthede vir jong atlete wat belangstel in paalspring.
“Dit is ’n perfekte plek om te begin. Ek sal graag wou sien dat paalspring in Suid-Afrika meer aandag moet kry, want daar is verskriklik baie talent.”