n Bekende gesig by die openbare biblioteek in Pleinstraat, Stellenbosch, het Dinsdag 31 Oktober ná 44 jaar van diens by dié plaaslike fasiliteit uitgetree.

Die 65-jarige Anton Müller werk sedert 1979 as rakbeampte by die biblioteek – ’n rol wat hy ten volle oor die meer as vier dekades van sy indiensneming terdeë geniet het. Hy was verantwoordelik om al die boeke wat ywerige boekwurms aan die biblioteek terugbesorg het, in alfabetiese orde op die rakke te pak.

Müller is op 22 Oktober 1958 in Amsterdam, Nederland, gebore en het in George en Stellenbosch grootgeword. Hy het sy skoolloopbaan aan die Laerskool Paul Roos (vandag die Laerskool Eikestad) begin en sy hoërskooljare aan die Olyfkrans-kollege in Swellendam en Paul Roos Gimnasium deurgebring.

Hy het as 21-jarige as rakbeampte by die deure van die plaaslike biblioteek ingestap, en nooit teruggekyk nie.

Oor die jare heen het hy baie veranderings in die werksplek deurmaak en trotseer, en Müller sê hy moes vinnig leer en by die veranderings aanpas.

“Dinge het baie oor die jare verander; deesdae word alles elektronies gedoen, maar ons het aan die begin alles met die hand gedoen,” sê hy, en voeg by hy moes oor die laaste paar jaar dinge volgens die elektroniese Dewey-klassifikasiestelsel doen.

Vir dié Dalsig-inwoner was dit die perfekte loopbaankeuse, veral omdat hy ’n groot liefde vir lees en boeke koester. Müller het ook self in 2021 ’n boek, Ek onthou, oor sy lewensreis as iemand op die outisme-spektrum geskryf.

Hy is as driejarige met ’n ernstige graad outisme gediagnoseer en as “onopvoedbaar” geklassifiseer. Hy sou waarskynlik in ’n inrigting geplaas moes word, maar sy ma het besluit hy moes sy plek in die samelewing met waardigheid volstaan.

Dit was veral die feit dat hy daagliks nuwe mense ontmoet het, wat hom in die werksplek die gelukkigste gemaak het.

“Ek het ook oor die 44 jaar met baie mense gewerk, en met verskeie biblioteek-assistente en hoofbibliotekarisse. Van my beste tye by die werk was wanneer ons my kollegas se verjaardae gevier het. Ek het ook groot genot uit my daaglikse take geput; ek het dit geniet om al die boeke weg te pak en groot genot daaruit geput as die rakke mooi en netjies is.”

Terwyl Müller uitsien om in sy aftrede soggens ’n bietjie in te lê, meer tyd op sy fiets deur te bring, in die winter na sneeu te gaan kyk, meer familiereise aan te pak en sy administrateursvernuf ’n paar dae per week by die Stellenbosch Welgelegen-kerk wil inspan, sê hy hy gaan sy daaglikse werkskedule mis.

“Ek gaan ook diegene wat die biblioteek besoek en ’n geselsie met my aangeknoop het, mis,” sê hy.

“Ek wil die Hemelse Vader dank dat Hy my vir 44 jaar gespaar het om my daaglikse take te verrig.”

You need to be Logged In to leave a comment.