Prof. Jaap Durand (links voor) het saam met prof. Jakes Gerwel (middel voor), prof. Richard van der Ross (regs voor), senior personeel van die UWK en 4 000 studente aan ’n optog na die Bellville-polisiekantoor deelgeneem om die vrylating van studente tydens die jare tagtig se anti-apartheidveldtogte te eis.Foto: Leon Müller


“Hy was ’n ongelooflike pa. Ek, my suster en my broer het die voorreg gehad om hom as ’n pa te ken, waar baie ander mense hom in sy teologiese hoedanigheid gesien het.”

Só beskryf Jaco Durand, seun van die geliefde teoloog en akademikus, professor Johannes Jacobus (Jaap) Fourie Durand, die dood van sy pa Maandagmiddag.

Durand is, volgens Jaco, op 24 Januarie omstreeks 16:30 by sy huis in Stellenbosch in sy slaap in die ouderdom van 87 oorlede.

Durand is op 5 Junie 1934 in die Vrystaat gebore. Hy was ’n vooraanstaande akademikus, teoloog, skrywer, anti-apart­heidsaktivis en die eerste viserektor van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK).

“Deur sy lewe en loopbaan het hy beduidende bydraes gelewer om Suid-Afrika te verenig en hom uitgespreek teen die ongeregtighede van ons verlede,” het die Stellenbosch-burgemeester, Gesie van Deventer, in ’n mediaverklaring gesê.

In Julie 2021 het Durand die ereburgerskap-toekenning uit erkenning vir sy uitstaande bydrae tot die gemeenskap van die Stellenbosch munisipale gebied ontvang. Hy het, voordat hy aangestel is as professor in sistematiese teologie by die UWK, sy loopbaan as ’n minister in die Transkei begin. Nie kort daarna nie is hy in 1981 as die viserektor aangestel.

“Die UWK treur oor die heengaan van een van sy bekendes wat dapper teen die apartheidsregime geveg het en instrumenteel was in die oprigting van die instelling se mees geskiedkundige geboue,” het die universiteit in ’n mediaverklaring gesê.

Durand was ook nou betrokke by die oprig van UWK se biblioteek en het selfs die argitek oortuig om ’n glasbaksteen in die vloer van die biblioteek in te bou.

“Hy het verduidelik dat hy wou hê die lig van die biblioteek se glasplafon moet die baksteen tot in die donker ouditorium in die kelder deurdring. Dit dien om 16 Junie 1976 – Soweto-studente-opstand – te herdenk en om die UWK-studente te onthou wat teen apartheid geveg het,” lui die mediaverklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.