Appél kom oor gat in Birdstraat

,

Die Stellenbosch-munisipaliteit wil teen die Kaapse hooggeregshof se uitspraak appelleer nadat die hof bevind het die eienaars van die oop stuk erf in Birdstraat, wat die Maties Leila Lees (18) […]


Die Stellenbosch-munisipaliteit wil teen die Kaapse hooggeregshof se uitspraak appelleer nadat die hof bevind het die eienaars van die oop stuk erf in Birdstraat, wat die Maties Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) se lewe geëis het, nie verplig is om die grond te rehabiliteer nie.

Die plaaslike munisipaliteit het ‘n aansoek na die hof gebring om die Cova Da Iria Trust, die eienaars van die grond, te verplig om binne drie maande ‘n geotegniese ondersoek-verslag aan te vra.

Hierdie verslag, wat deur die trust opgestel moet word, sal dan binne drie maande gebruik word om die nodige proses te lei, wat die rehabilitasie van die eiendom tot die natuurlike grondvlak sal beteken.

Die twee studente is dae lank gesoek voordat hulle in hul Subaru Forester in Oktober 2022 in die gat van die verlate bouperseel dood aangetref is. Die gat (steengroef) was in daardie stadium met water gevul.

Die gat op die perseel was deel van ‘n ontwikkelingsprojek wat bykans drie dekades gelede gestaak is toe die ontwikkelaars glo nie aan sekere bouvereistes voldoen het nie.

Die munisipaliteit se poging om die eienaar te kry om die grond te ontwikkel of die gat te vul, was tot op hede onsuksesvol. Ná die ongeluk het die eienaars wel ‘n tydelik omheining om die perseel opgerig.

Die munisipaliteit het gister (Woensdag 23 April) in ‘n verklaring verduidelik die hof- aksie volg ná jare se “uitputtende pogings” om die probleem in die besige straat “vriendelik” op te los.

Die munisipaliteit het bevestig die uitspraak word nou deeglik hersien. “Ons kan egter kategories verklaar dat ons ten sterkste nie saamstem met die bevindings van die hof nie. Ons sal teen die uitspraak appelleer.”

You need to be Logged In to leave a comment.