Die skrywer Shaakirah Mesias is vir haar uitstekende literêre biografie, 27 Years: Just a piece of meat, geprys.Foto:

Credit: SYSTEM

Met staande applous het ’n waarderende gehoor die skrywer Shaakirah Mesias geprys vir haar uitstekende literêre biografie, 27 Years: Just a piece of meat. Dié boek was vir twee maande ná sy vrystelling die top­verkoper op Amazon.

’n Boekbekendstelling is Saterdag 8 Julie by die Ou Lückhoff-gebou in Banhoekweg gehou en is deur familie, vriende en kennisse van Mesias bygewoon.

Tydens ’n gedigvoorlesing het Desonia Hartogh die stelling gemaak dat almal van ons ’n storie het om te vertel.

“Dis hoe goed jy die aanslae van die lewe kan verwerk met die reddingsboeie wat familie, vriende en geestelike verryking jou bied wat jou in die lewe staande laat bly sonder om tou op te gooi.”

Die gevierde veteraan-skrywer Gaireyah Fredericks het die essensie van die boek in die onderhoud meesterlik opgesom en almal behoorlik aan haar lippe laat hang met indringende vrae en stellings oor van die voorblad tot die aanbeveling op die agterblad.

Tussenin het sy voorlesings gedoen wat die gehoor se hare regop laat staan het met van die gebeure in die lewe van die skrywer. Om die onderhoud tot sy reg te laat kom moes sy haar eers vooraf vergewis van die inhoud deur die boek te lees om paslike vrae te kon formuleer. Hier het sy gebieg dat die gebeure te veel vir haar was. Dat sy eers moes asem skep deur ’n draai te loop om haarself weer moed te gee alvorens sy verder kon lees.

Mesias, deesdae ’n Paarliet, is tans ’n onderwyser in die Verenigde Arabiese Emirate en het tydens die Covid-19-pandemie kans gekry om haar pynlike lewensverhaal van misbruik neer te pen. Sonder enige ondervinding van hoe om te skryf het sy daarin geslaag om die meeste skryftegnieke onbewustelik te bemeester.

Gebore en getoë in Cloetesville, Stellenbosch, het die ontvangs in haar geboortedorp alle verwagtinge van haar oortref. Sy kon die indringende vrae uit die gehoor emosioneel maar duidelik beantwoord. Ná jare van donker depressie wat medikasie benodig het, was die keerpunt in haar lewe die woorde van haar oudste seun: “Mammie, wanneer gaan ons ’n gelukkige gesin wees?”

Dit, tesame met ’n vaste geloof en lewende getuienis dat in tye van swaarkry daar wel verligting is, het haar haar lewe ten goede laat omkeer.

Sy kon haar kop oplig, mense vierkantig in die oë kyk, haar huppel in die lewe teruggryp sonder om as ’n slagoffer beskou te word – ’n toonbeeld vir vroue wat ná misbruik binne die huwelik oorkom en oorwin het.

You need to be Logged In to leave a comment.