Aspirant-kunsonnie wil ‘Afrika se ware storie’ vertel

Marne Nortier, ’n derdejaar-onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch, wil “Afrika se ware storie” graag met haar kuns vertel.


Marne Nortier, ’n derdejaar-onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch, wil “Afrika se ware storie” graag met haar kuns vertel.

Dié 20-jarige, wat in Durbanville grootgeword het, vertel sy het van jongs af aanklank by ’n verfkwas, potlood en skilderdoek gevind.

Gelukkig het haar ouers haar potensiaal as kunstenaar op ’n jong ouderdom reeds raakgesien.

“Ek het van jongs af al begin skets en verf, en op vierjarige ouderdom het ek met kunsklasse begin. My ouers kon natuurlik my potensiaal raaksien en hulle het my nog altyd gemotiveer om dit [skilder] te doen – veral my ma.”

Volgens Nortier het sy as hoërskoolleerder besef sy wil eendag ’n kunsonderwyser word, omdat leerders dié vak nie noodwendig as belangrik of waardevol beskou nie.

“Toe ek op laerskool was, was kuns altyd vir my die lekkerste. Ek dink dis omdat ek ’n visuele leerder is; ek moes altyd eers prentjies sien voordat ek kon verstaan. Oor die algemeen dink ek kuns word in skole afgeskeep; dis asof wiskunde altyd meer prioriteit geniet.”

Nortier glo sy kan met kuns veral visuele leerders help om nie net kuns te bemeester nie, maar ook vakke soos wiskunde en wetenskap – deur kuns.

“Smiles of Africa”, die tema waaronder Nortier skilder, is geïnspireer deur uitreike van haar kerk in dele van Afrika.

“Ek het in 2019 met die uitreike van ons kerk baie foto’s geneem – veral foto’s van kinders wat glimlag,” vertel sy.

“Dieselfde jaar moes ons toe ’n kunstaak doen met Afrika as die tema. Ek het toe dié foto’s as konsep vir my sketse gebruik. Dit is tóé dat ek my spesifieke kunsstyl ontdek het.”

Nortier sou graag eendag haar werk met die wêreld wil deel en terselfdertyd ook help om die wanopvattings oor Afrika te bekamp.

“Die hoof-boodskap wat ek wil oordra, is die rou emosie en storie van Afrika. Ek wens mense kon die mooi in hierdie kinders se eenvoudige lewe sien,” deel Nortier.

“Hoewel hierdie kinders deur moeilike omstandighede gaan, glimlag hulle steeds. Ek wens ook dat mense oor die wêreld heen dit eendag kan sien. Ons mense het steeds hoop, en dit is te sien in die oë en glimlag van hierdie kinders.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.